Dagstuk | Maandag 4 Augustus 2025

Dagstuk | Saterdag 2 Augustus 2025
Dagstuk | Dinsdag 5 Augustus 2025

Ons is tans in koninkrykstyd en besig met ’n reeks in ons eredienste: So ook op die aarde. In 2 Korintiërs 4:7-12, beskryf Paulus hoe ons in Christus nie meer slagoffers van ons omstandighede is nie, maar dat God se krag juis sigbaar word in ons weerloosheid. Die kruis verander ons narratief van slagoffers na oorwinnaars. In hierdie week se dagstukke reis ons saam deur die verhaal van Rut, wat iets van hierdie waarheid help vertel.

Rut 1:20

 

Sy het vir hulle gesê:

“Moet my nie Naomi noem nie,

noem my Mara,

want die Almagtige het dit vir my

baie bitter gemaak.

Refleksie

Die verhaal van Rut begin by ’n gesin wat alles verloor het. Naomi se man en twee seuns is almal oorlede. Sy besef dat, sonder hulle, daar nie meer ’n toekoms vir haarself en haar skoondogters by haar is nie en sy stuur vir Orpa en Rut terug na hul families toe. Sy wat jare gelede tevrede was om met haar gesin weg te trek, kom terug as ‘n gebroke weduwee sonder seuns, sonder hoop.

Naomi erken die realiteit van verlies en hoe weerloos dit haar laat. Sy verander selfs haar naam na Mara (Bitter) en sê dat die Almagtige haar lewe baie bitter gemaak het. Dikwels wanneer dinge in ons lewe moeilik gaan, probeer ons dit wegsteek, of ons probeer wys dat ons sterk is. Naomi is bereid om haar weerloosheid openlik te erken, nie net teenoor die mense rondom haar nie, maar ook teenoor God.

Brene Brown skryf: “Vulnerability is the birthplace of love, belonging, joy, courage, empathy, and creativity.”

Hier aan die begin van die week word ons uitgenooi om saam met Naomi ons weerloosheid en bitterheid te erken.

Waar beleef jy bitterheid? Waar voel jy weerloos? Wat in jou lewe, of in die wêreld verstaan jy nie en wonder jy hoe die Here dit kan toelaat nie?

Daar is ook ’n stuk ironie in die oomblik van Naomi se belydenis. Terwyl Naomi God beskuldig dat Hy haar lewe bitter gemaak het, staan Rut stil aan haar sy – ‘n lewende bewys van God se genade. Soms is ons so vasgevang in ons eie pyn dat ons nie die teken van God se teenwoordigheid langs ons kan sien nie. Mag jy, in jou weerloosheid, vertrou dat die Here jou nie alleen los nie, maar dat ons eie weerloosheid ook die geboorteplek vir God se liefde, verbondenheid, vreugde, dapperheid, empatie en kreatiwiteit in ons lewens is.

Gebed

Here God, mag U ons vandag help om dapper genoeg te wees om ons broosheid en weerloosheid te erken. Dat ons soos Naomi openlik kan erken: die Almagtige het my lewe bitter gemaak. Help ons ook om te vertrou dat U saam met ons in ons weerloosheid is. Dankie dat U bereid was om self weerloos te wees, ter wille van ons.

Amen.