In die volgende paar dae wil ek graag saam met jou dink oor ‘n belangrike aspek in ons lewe en dit is die dissipline van stiltetyd. Nou weet ek ook sodra ons hieroor begin praat voel die meeste van ons klaar skuldig. Maar dit is nie die bedoeling van ons gesprekke hierdie week nie. Ek wil eerder hê dat ons vanuit die Woord van God besin oor watter wonderlike skat stilword tye saam met God kan wees. Mag dit vir ons elkeen lei tot ‘n verdieping in ons stiltetyd oomblikke.
TEMA: Stiltetyd : Wat is dit en waarom is dit belangrik?
TEKSVERS: Luk 5:16: Hy het Hom egter gereeld teruggetrek na afgeleë plekke en daar gebid.
Ons oogmerk hiermee is om te groei in ons verhouding met Hom sodat ons Hom beter kan ken, Hom meer kan liefhê en meer soos Hy kan word. Stiltetyd is ‘n kragbron vir elke mens se geestelike lewe. Hierdeur word die geloofsband tussen jou en jou Verlosser versterk, jy kry antwoorde op kwelvrae en krag tot oorwinning oor die versoekings en aanslae van die vyand.
Godsmanne in die Bybel het juis dit in gemeen gehad, dat hulle tyd gemaak het om alleen met God te verkeer. Dink aan Moses, Josua en Dawid.
Het jy al mense hoor sê dat Christenskap nie ‘n godsdiens is nie, maar ‘n verhouding? Dit beteken ons word nie regverdig verklaar voor God omdat ons die regte dinge doen nie. Nee, ons word regverdig verklaar omdat ons in Jesus glo. Deur Hom kan ons in ‘n verhouding met God staan. Wanneer mens in ‘n verhouding met iemand is, spandeer jy graag tyd saam met daardie persoon.
Dis dan ook waarom ons stiltetyd hou. Dis ‘n tyd waar ons die wêreld en alles daarin eenkant toe skuif, sodat ons net op Jesus kan fokus. Ons gebruik dinge soos Bybellees of Bybelstudie en gebed om tyd met Hom te spandeer.
Om gereeld stiltetyd te hou sodat jy dit van jou ‘doenlysie’ kan afmerk is egter nie die punt nie. Die punt is om stiltetyd te gebruik om ‘n nouer verbintenis met Jesus te vorm.
Dit is presies wat stiltetyd is. Stiltetyd is daardie tyd wat ek daagliks toewy om meer te word soos Jesus, om Jesus se hart te hoor en om my lewe met Jesus te belyn. Stiltetyd is soos ‘n gimnasium vir my geloof. Dit is nie genoeg om ‘n lidmaatskap te hê nie, ek moet werklik elke dag gaan oefen.
Here, ek wil graag my verhouding met U versterk. Daarom wil ek dat my tyd saam met U werklik kwaliteit tyd sal wees. Help my asseblief daarmee. Amen.