Soos wat ons in hierdie week ingaan, is daar ’n uitreikspan van Stellenberg wat tyd in Calitzdorp spandeer en die storie van Josef met die mense van Calitzdorp deel. Hierdie week reis ons saam deur die verhaal van Josef.
Hy het ook nog ‘n ander droom gehad en hy het dit vir sy broers vertel. Hy het gesê: “Ek het weer gedroom. Die son en die maan en elf sterre het voor my kom buig.”
Die verhaal van Josef gaan in ’n klomp maniere oor drome. Dit gaan oor Josef se drome, oor die drome van die skinker en bakker, oor die Farao se drome, maar in besonders gaan dit oor God se droom vir die mensdom.
As gevolg van Josef se drome, verafsku Josef se broers hom. Hulle beplan selfs om hom dood te maak. Vir die res van die verhaal hoor ons van ander drome, maar Josef droom nie weer nie.
Het jy al ooit ervaar dat mense jou anders hanteer as gevolg van ’n droom wat jy gehad het? Moes jy al ooit opgee op ’n droom?
Kinders het gewoonlik groot drome. Soos ons ouer word verloor ons iets hiervan. Ons hou op droom oor ons lewens. Rutger Bregman het onlangs ’n boek geskryf met die naam Moral Ambition, waarin hy mense aanmoedig om groter te droom:
“You can’t be afraid to come across as weird if you want to make a difference. Every milestone of civilization was first seen as the crazy idea of some subculture or another, from the Pythagorean theorem to the conviction that slavery is depraved.”
Soos die verhaal van Josef ontwikkel, kom ons agter dat dit die Here is wat hierdie drome vir Josef gegee het.
Watter droom het die Here vir jou gegee wat jy dalk moet herbesoek? Of watter droom is die Here besig om te ontwikkel, diep in jou binneste?
Mag ons vashou aan die drome wat God ons gee om saam met Hom, herstel te bring in ’n gebroke wêreld.
Here, ons is dikwels so bang vir wat ander van ons dink, of ons vergeet van ons drome omdat ons wil inpas in die samelewing in. Maar U droom vir die wêreld is meer as wat ons tans beleef. Laat die droom van U koninkryk in ons harte leef, dat ons saam met U herstel kan bring in ons gebroke wêreld.
Amen.