Dagstuk | Maandag 8 Desember 2025

Dagstuk | Vrydag 5 Desember 2025
Dagstuk | Dinsdag 9 Desember 2025

Tema: “Dankbaarheid vir die Reis”

Bybelteks:
1 Tessalonisense 5:18 — “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”

GEDAGTES
Watter tipe jaar was 2025 vir jou? Maklik of moeilik? Redelik of hobbelrig? Of dit nou ’n jaar was wat jou goed behandel het, of ’n jaar wat jou laat worstel het—wanneer jy terugkyk, is daar sekerlik iets waarvoor jy dankbaar kan wees. Aan die einde van die jaar word ons herinner om terug te kyk na God se getrouheid—deur oorwinnings, uitdagings en lewenslesse. Dankbaar vir die tye wat goed was, maar ook dankbaar dat die Here ons deur die moeilike en uitdagende momente gedra het.

Een van die geheime van ’n gelukkige lewe is dankbaarheid. Wanneer ek en jy regtig leer om met dankbaarheid te leef, verander dit ons wêreld. Dan begin ons verby die dinge kyk wat die lewe vir ons moeilik maak, en raak ons meer bewus van die seëninge wat ons het. Ons kyk verby die donker wolke en begin die silwer randjie raaksien. Dankbaarheid word ’n leefstyl wanneer ons besef dat alles wat ons het, ’n geskenk van God is: om te kan glo—’n geskenk; om te kan werk—’n geskenk; om ’n familie te hê—’n geskenk. En so kan jy self verder byvoeg. As ons onsself voortdurend herinner aan alles waarvoor ons dankbaar kan wees, bly dankbaarheid lewendig in ons. Wanneer jy terugkyk oor 2025, is daar seker vele aspekte waarvoor jy met dankbaarheid kan getuig.

GEBED
Liewe Heer,
Dankie vir die gawe van hierdie dag en vir al die seëninge, gesien en onsien, wat my lewe vul.
Help my om ’n dankbare hart te hou, om die klein vreugdes raak te sien, en om U goedheid in elke oomblik te onthou.
Leer my om te waardeer wat ek het, om dankie te sê selfs in uitdagings, en om vriendelikheid met ander te deel.
Amen.