Dagstuk | Maandag 9 Desember 2024

Dagstuk | Saterdag 7 Desember 2024
Dagstuk | Dinsdag 10 Desember 2024

Ons is in die tweede week van Advent, die week van vrede. In hierdie week wat voorlê, dink ons na oor vrede.  In Hebreeus is dit die woord Shalom, wat algemeen gebruik word om mekaar te groet. Dit is ’n algemene woord, met ’n diep betekenis. Vandag begin ons met bekende seënbede uit Numeri 6, waarmee die priesters die volk geseën het.

Numeri 6:24-26(Afr2020)

24“ ‘ Mag die Here jou seën en jou beskerm.

25 Mag die Here sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees.

26 Mag die Here sy aangesig na jou toe oplig en aan jou vrede gee.’ ”

Refleksie

As ons dink aan hoe die woord vrede vandag dikwels gebruik word in die konteks van vredesverdrae, of tye van vrede dan kan ons dink dat vrede die afwesigheid van oorlog beteken. En in die Bybel kan die woord vrede verwys na die afwesigheid van konflik, maar dit dui ook op die teenwoordigheid van iets beters in die plek daarvan.

Die basiese betekenis van shalom is volledig of heel. In verskillende tekste sien ons dat die woord kan verwys na ‘n klip wat ‘n perfekte geheel vorm sonder krake of na voltooide klipmuur wat geen gapings het nie, waar elke baksteen in plek is. Shalom verwys na iets wat kompleks is met baie stukke wat in ‘n toestand van volledigheid, heelheid is.

Dit is ‘n toestand van heelheid en harmonie – met God, onsself, ander, en die skepping. Dit beteken om ten volle te floreer soos God ons bedoel het.

As Numeri 6 vir ons vrede toebid, gaan dit oor meer as ’n persoonlike gevoel. Dit gaan oor ’n lewe in harmonie met God, mekaar en die wêreld rondom ons.

Waar sien jy tans onvrede, of ’n toestand van gebrokenheid?

Hoe sal dit lyk as die Here aan vandag vir jou vrede gee?

Neem ’n oomblik om vir die Here te vra om vir jou vrede te gee, waar jy dit nodig het.

Luister weer na die woorde van Numeri 6 en aanvaar dit ook as ’n seënbede oor jou lewe

Gebed

24“ ‘ Mag die Here jou seën en jou beskerm.

25 Mag die Here sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees.

26 Mag die Here sy aangesig na jou toe oplig en aan jou vrede gee.’ ”

Amen