Dagstuk | Saterdag 11 Mei 2024

Dagstuk | Maandag 13 Mei 2024
Dagstuk | Vrydag 10 Mei 2024

Teks: Johannes 11:25

25Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook;

GEDAGTE

Lasarus was siek, maar Jesus wag nog twee dae in die dorp voordat Hy vertrek om na hom toe te gaan. Teen die tyd dat Hy daar aankom, is Lasarus reeds die vierde dag dood en begrawe. Marta en Maria dink altwee dat Jesus vir Lasarus kon red toe hy nog gelewe het, maar Jesus wil aan almal wys dat Hy ook mag oor lewe en dood het. Jesus huil saam met sy vriende omdat hy hulle hartseer verstaan en beleef, maar Hy sê: “Ek is die opstanding en die lewe”. Jesus self is die bron van lewe. Hy verander ook die definisie van ware lewe. “Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.”

Om in Jesus te glo is ware lewe, om in verhouding met Hom te lewe is om waarlik te bestaan. Sonder Hom kan jy dalk biologies lewe maar geestelik morsdood wees. Deur Hom kan jy biologies sterf, maar ewig bly lewe!

Hierdie wete laat ons ook anders hier op aarde lewe. Ons is nie hooploos, moedeloos en raadop nie.

Jesus laat ons nooit alleen nie – selfs nie in die graf nie. Jesus se sorg gaan oor ons lewe hier op aarde. Dis duidelik uit sy wonderwerke. Maar sy sorg is so omvattend dat Hy ons selfs nie in die graf alleen laat nie. Selfs wanneer ons sterwe, sal ons saam met Hom opstaan.

GEBED

Here Jesus, dankie dat ek ’n nuwe mens is wat voluit kan lewe met hoop, krag en met vrede, omdat U my so liefhet. Dankie dat ek ook eendag saam met U sal opstaan en in u heerskapy sal deel. Amen