20 Julle het kwaad teen my beplan, maar God het dit vir iets goeds in gedagte gehad, met die doel om te doen wat vandag gebeur – om ‘n groot volk aan die lewe te hou.
Die verhaal van Josef getuig dat God betrokke is in die wêreld. Dat Hy besig is om herstel te bring. Dat Hy mense se grootste foute kan gebruik om iets mooi en goed voort te bring.
Ons kan nie altyd die uiteinde van die verhaal sien nie.
In Calitzdorp vat ons hande saam met ’n boer van die gemeenskap, oom Klaus Triebe, ’n Duitser wat ’n besonderse hart vir die mense van Calitzdorp het. Min of meer 20 jaar terug het oom Klaus ’n kleuterskool begin. Jaar na jaar, veral in die jare wat dit uitdagend gaan, vra oom Klaus of dit enigsins ’n verskil maak, as hy kyk na die gebrokenheid van die samelewing rondom hom. Verlede jaar het oom Klaus getuig hoe daar iemand wat 20 jaar terug in een van die eerste klasse van die kleuterskool was, teruggekom het om ’n onderwyser daar te wees. Toe oom Klaus vra hoekom sy graag daar wil skoolhou, antwoord sy: “20 jaar terug in hierdie klas het ek soveel liefde beleef. Ek wil daardie selfde liefde nou vir hierdie kinders gee.”
Oom Klaus se getuienis en die verhaal van Josef, herinner ons dat ons nie altyd kan sien watter verskil ons maak nie, maar ons kan vertrou dat die Here dit wat ons doen, al is dit hoe klein en al maak ons hoeveel foute, gebruik om iets goeds mee te doen.
Here, dankie dat ons kan vertrou dat U besig is om herstel te bring in die wêreld. Dat U uit die gebrokenheid van die wêreld, iets mooi en goed kan voortbring. Gebruik ons om te help om hierdie droom van herstel te bewaarheid. Mag ons saam met U, die koninkryk van God sigbaar maak.
Amen.