Hierdie week word ons genooi om in liefde uit te reik na Moederaarde en alle vorme van lewe.
Openbaring 22:1-2
1 Toe het die engel aan my ‘n rivier met die water van die lewe gewys. Dit was helder soos kristal, en het gestroom uit die troon van God en die Lam. 2In die middel, met die hoofstraat aan die een kant en die rivier aan die ander kant, staan die boom van die lewe, wat twaalf keer vrugte dra – elke maand dra dit vrug. En die blare van die boom bring genesing vir die nasies.
Openbaring bied ’n visioen van ’n nuwe skepping: ’n stad waar die rivier van die lewe vloei en die boom van die lewe genesing bring. Hierdie beeld is vol hoop – dit wys dat God nie net mense nie, maar die hele skepping nuut maak. Genesing is nie beperk tot individue of nasies nie, maar strek oor die aarde self.
Dikwels regverdig Christene dit om die aarde te verbruik deur te sê dat die aarde net ons tydelike woning is. In die perspektief van die ewigheid maak dit nie eintlik saak nie. Daarom kan ons maar die aarde verwoes, want dit gaan in elk geval verwoes word. Maar openbaring maak dit duidelik dat die toekoms van die mens saam met God, op die aarde is, nie iewers anders nie. Die doel is nooit om die aarde te verlaat nie, maar om die aarde te herstel.
Vir ons wat vandag leef in ’n wêreld waar die aarde kreun onder verwoesting, is hierdie visioen ’n belofte: God gee nie die skepping prys nie. Hy bring herstel, en Hy nooi ons om nou al draers van daardie genesing te wees. Elke daad van sorg, elke poging tot herstel, is ’n voorsmaak van die nuwe skepping wat kom.
Gebed
God van die nuwe skepping, dankie vir die belofte van die rivier van die lewe en die boom wat genesing bring. Laat ons vandag draers van U genesing wees vir die aarde en vir mekaar, en laat ons hoop vind in U belofte van ’n nuwe skepping. Amen.