Dagstuk | Saterdag 13 April 2024

Dagstuk | Maandag 15 April 2024
Dagstuk | Vrydag 12 April 2024

Vandag is Saterdag 13 April en in hierdie week reis ons saam deur die laaste deel van die gemeente se geloofsbelydenis: Om voordurend te vernuwe.

Ons het die week bietjie gesels oor die feit dat ons deur Jesus Christus se kruisiging, lyding, dood en opstanding nuwe mense geword het en dat ons as nuwe mense deur God se bril na die wêreld moet kyk. Ons het daaroor nagedink dat om deur God se bril te kyk dit belangrik is dat ons by sy voete rus vind en met hom tyd spandeer, maar ook dat om deur sy bril te kyk is dit belangrik om soos mense wie se Verlosser leef, te leef. Om te lewe asof ons verlosser leef word ons uit ons gemaksone gedwing en dieselfde geld om deur die bril van God na die wêreld te kyk.

Kom ons lees Lukas 19:1-10 saam:

Jesus en Saggeus

1Jesus het in Jerigo gekom en was op pad deur die stad. 2Daar was ‘n man met die naam Saggeus, die hooftollenaar, ‘n ryk man. 3Hy het geprobeer om Jesus te sien, maar weens die skare kon hy nie, omdat hy te kort was. 4Hy hardloop toe vooruit en klim in ‘n wildevyeboom om Jesus te kan sien, want Hy sou daar verbygaan. 5Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.”

6Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang. 7Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: “Hy gaan by ‘n sondige man tuis!”

8Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.” 9Daarop sê Jesus: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ‘n kind van Abraham. 10Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.”

Wanneer ons die teks lees sien ons dat die skare geskok was dat Jesus by ’n sondige man gaan eet, maar Jesus het nie omgegee wie Saggeus was nie. En so ook om voortdurend te vernuwe en as nuwe mense wat God se brille dra, is dit belangrik dat ons ander hanteer soos Jesus ander mense hanteer het en oor grense heen uitreik. Om te lewe asof Jesus Christus ons Verlosser is, is dit nodig om op te tree soos Jesus sou optree en mense met menswaardigheid, liefde en genade te hanteer omdat Jesus ons met menswaardigheid, liefde en genade sou hanteer.

Ek wil ons uitdaag met die laaste uitdaging die week dat as ons voordurend wil vernuwe en wil lewe as nuwe mense met God se bril aan, dat ons werklik onsself sal uitdaag om deur God se oë na die wêreld te kyk.

Kom ons bid saam:

Dankie Here dat U vir ons aan die kruis gesterf het en dat ons deur U kruisging, lyding en opstanding nuut gemaak is. Here dankie dat U vir ons kom wys het dat almal deelvorm van U koninkryk. Help ons om konstant na die wêreld deur U bril te kyk. Help ons om konstant uitgedaag te word om oor grense heen uit te reik en te lewe asof U ons verlosser is.

 

Amen