Dagstuk | Saterdag 13 Desember 2025

Dagstuk | Vrydag 12 Desember 2025
Dagstuk | Maandag 15 Desember 2025

“Oorloed en Goddelike seën”

Bybelteks: Psalm 65:12 — “U kroon die jaar met u goeie gawes. Waar U ook gaan, is daar oorvloed!”

GEDAGTE
Wanneer jy terugkyk oor 2025, waar het die Here jou geseën met Sy goeie gawes? Dominees spreek elke Sondag die seën van die Here uit—maar wat beteken dit eintlik? Hoe werk God se seën? Sal jou vriende kan getuig: “God het jou geseën”? Seën Hy alle mense? Het Hy jou hierdie jaar geseën?

Die gevaar is dat ons seën dikwels net koppel aan wanneer dinge goed gaan. Ons sien seën dikwels as die goeie dinge wat ons beleef en ontvang, waarvoor ons dankbaar is. Maar God se seën werk op soveel ander maniere.

  1. Ons is geseën omdat ons deur God gekies is. God kies jou nie op grond van wie jy is of wat jy doen nie, maar omdat Hy goed, liefdevol en getrou is. In die wêreld word ons gekies op grond van kwalifikasies, ervaring of prestasie, maar God kies jou bloot omdat Hy jou liefhet.

  2. Ons is geseën omdat ons Sy kinders is. Ons is nie net een van baie nie; ons is spesifiek as Sy kinders aangeneem. Dit wys hoe God oor ons voel—Hy wil vir ons ’n Vader wees, wat sorg, help en liefhet.

  3. Ons is geseën omdat Hy vir ons genade gee om van te leef. Genade verander alles—dit neem seer en pyn en maak dit mooi. Dit laat ons die goeie in alles raak sien en die skoonheid in die moeilikhede ontdek.

  4. Ons is geseën omdat ons gered en vergewe is. Die grootste genade lê daarin dat ons deur Christus se bloed vergewe word van al ons sonde—nie omdat ons dit verdien nie, maar omdat God ons liefhet.

Dit is waarmee God ons elke dag seën. As jy dus terugkyk nie net oor 2025 nie, maar jou hele lewe, sal jy sien dat jy geseën is—oorvloedig geseën.

GEBED
Hemelse Vader,
Dankie vir U eindelose seëninge in my lewe.
Dankie vir U liefde, U leiding, en die krag wat U my elke dag gee.
Help my om altyd U goedheid raak te sien en in dankbaarheid te wandel.
Mag my lewe eer aan U bring.
Amen.