Dagstuk | Saterdag 14 Desember 2024

Dagstuk | Vrydag 13 Desember 2024
Dagstuk | Maandag 16 Desember 2024

Ons is in die tweede week van Advent, die week van vrede. In hierdie week wat voorlê, dink ons na oor vrede. In die week wat verby is, het ons gereflekteer oor die betekenis van vrede en die Een wat vrede moontlik maak. Oor Jesus se vrede wat anders lyk as die vrede van die wêreld, wat ons nooi om anders te leef in die wêreld. Jesus se vrede roep ons op om met vrede te leef. Vandag sluit ons af met Matteus 5.

Matteus 5:9

Gelukkig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

Refleksie

Jesus roep ons op om vredemakers te wees. In ons gedagtes kan ons dit maklik verander na “vrede bewaarders”, asof ons geroep word om konflik te vermy. Ons het reeds vroeër gesien dat vrede nie die afwesigheid van konflik beteken nie, maar juis bereid is om vrede te maak te midde van die moeilikheid van die wêreld. In Matteus 5 roep Jesus ons op om juis dit te doen: om nie onsself te onttrek uit die wêreld uit nie en ook nie om deur middel van mag vrede ten alle koste te bewaar nie, maar om vredemakers te wees, wat herstel bring in ’n gebroke wêreld.

Ons sluit vandag af met die bekende woorde van Franciskus van Assisi

Gebed

Here, maak my ‘n instrument van u vrede.

Waar daar haat is, laat ek liefde saai;

waar daar verwonding is, vergifnis;

waar daar twyfel is, geloof;

waar daar wanhoop is, hoop;

waar daar duisternis is, lig;

en waar daar hartseer is, vreugde.

 

O Heer, gee dat ek nie soseer mag soek

om getroos te word as te troos nie;

om verstaan te word as om te verstaan nie;

om liefgehê te word as om lief te hê nie.

Want dit deur te die gee wat ons ontvang;

dit is in begenadiging dat ons begenadig word;

en dit is deur te sterf dat ons gebore word tot die ewige lewe.

 

Amen