GENESENDE WOORDE?
Het jy al ervaar hoe ’n enkele opmerking – of dalk liewer ’n aanmerking – wat iemand maak, soos ’n skerp mes in jou hart steek? Of dat iemand vir jou vertel wat, kom ons sê maar, ou Jan van jou gesê het, en dit tref jou diep? Jy het dalk nog altyd gedink ou Jan is aan jou kant in hierdie lewe. Nou vind jy uit dat jy jou misgis het.
Die wyse en glorieryke koning Salomo het nie net bewonderaars gehad nie – elke mens het iewers iemand wat vir jou die neus optrek. Hierdie koning met die baie vroue (was dít wys?) het waarskynlik ook onder skinderpraatjies deurgeloop – en hierdie praatjies het hom seergemaak.
In Spreuke 12:18 skryf hy:
Daar is skinderpraatjies
wat soos dolksteke is,
maar die tong van wyses
is ’n geneesmiddel.
’n Wyse mens, so het ons met hierdie week se dagstukkies besef, is iemand wat met die gevolge van sy dade en woorde rekening hou. ’n Wyse mens het dus ook ontsag vir die Here.
Jakobus herinner ons in hoofstuk 3 vers 8 en 9 daaraan dat ons medemense na die beeld van God geskep is. “Hoe,” wonder hy dan, “kan ons God loof en dan die mense wat na sy beeld gemaak is, vervloek?”
Ons kan selfs verder gaan as Jakobus. Ons kan Jesaja 53 vers 5 lees. Daar staan dat die Kneg van die Here se wonde vir ons genesing bring. Mag ek dan iemand vir wie Hy gely en gesterf het, met die dolksteke van skinderstories aanval? Moet my woorde nie liewer, soos die Kneg se wonde, vir mense genesing bring nie?
Ek weet jy wil graag ’n wyse mens wees. Soek dan elke dag vir jou iemand uit wat onder die dolktonge van ander deurgeloop het, en laat jou woorde dan genesende salf aan sy of haar wonde smeer.
Ek sê dit nie as iemand wat dit self altyd regkry nie; ons struikel almal, sê Jakobus. Maar hy wil nie hê dat ons dit as ’n verontskuldiging gebruik nie. Hy rig dit as ’n waarskuwing, met die hoop dat ons die Heilige Gees sal toelaat om besit van ons tong te neem. Daarom moet ons mekaar voortdurend daaraan herinner dat ons woorde genesend moet wees en nie verwondend nie. Leef van nou af met daardie wysheid.
Kom ons bid saam:
O Heilige Gees, maak tog ons tong ’n heilige en helende instrument in hierdie verwondende wêreld. Amen.