30 Hy moet meer word, maar ek minder.
Van kleintyd af hoor ons dat ons onsself moet laat geld en moet opstaan vir ons regte. Wat seker goeie raad is tot op die dag dat ons vir die Here ook wil begin voorskryf. Ons as mense het ‘n diep begeerte in ons om in beheer van ons eie lewe te wees en ons lewe te stuur in die rigting wat ons dink die beste is. Tog sê Johannes iets anders: “Here, ek moet minder word, U moet meer word”! Dit is die hoofdoel waarna ons as Christene daagliks streef. Aan die einde van elke dag moet daar minder van onsself oorbly en meer van Christus in ons lewens sigbaar wees. Ons moet elke dag al hoe meer afhanklik van God raak. Matteus 5:3-9 sê – Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.
Die doel van jou geestelike lewe is totale oorgawe aan God. Dis wanneer Hy alles geword het, en ek niks. Die lewenslange uitdaging vir elke opregte navolger van Christus is om klein genoeg te wees sodat God se grootheid in en deur ons sigbaar kan word. Ons moet minder word, sodat Hy wat alles is, nog meer kan word in ons. Hierdie vorming begin met die eenvoudige keuse om onsself daagliks beskikbaar te stel as nederige werktuie in die hand van die Here. Om te bid dat die Here ons sal stroop van ons eie-ek om nederig onder sy hand te lewe.
In die grys van die môrelig bring ek myself voor U, my God. Gestroop van dit wat die wêreld van my weet. Elke klein gedagtetjie is aan U bekend. Al my drome lê mooi uitgepak. Elke kommer het U eerste raak gesien Heer, stroop my van alle onsuiwerheid. Gebruik my vandag tot U eer. Laat my luister na die Heilge Gees wat my bewoon
Help my onthou van hoe Jesus mense na U gelei het. My Almagtige God en Vader, dankie vir die voorreg om te weet. Dankie vir elke seëning en U aanraking.
U ken elke fasset van my lewe.
U verstaan elke ootrede. In hier die grysoggend uur is ek dankbaar. U is in beheer van my lewe. Laat U lig deur my skyn vir elke eensame siel daar buite.
Amen