Dagstuk | Saterdag 17 Februarie 2024

Dagstuk | Maandag 19 Februarie 2024
Dagstuk | Vrydag 16 Februarie 2024

Vandag is Saterdag 17 Februarie. Elke reis het ’n stilhouplek nodig. Probeer vandag “unplug/ontrek” van die normale. Die ou geloofsvaders en moeders het geglo dat jy minstens een dag per week êrens in die natuur moet kom – dit dwing jou om na ander dinge te kyk as waarna jy gewoonlik kyk. In Genesis 15 as Abram by God kla, nooi God hom om na die sterre te kyk. Haal jou oogklappe af en kyk na die groter wêreld waarvan jy deel is. Gun jouself vandag ’n stilhouplek sodat jy die waarde van jou lewe kan oordink.

Genesis 15:5 “Toe het die Here vir Abram buitentoe laat gaan en vir hom gesê: ‘Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.’ Verder sê die Here vir hom: ‘So baie sal jou nageslag wees.’ Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so volgens die wil van die Here gehandel het.”

Geloofsgewoontes help ons om in toewyding aan God en ons diens aan ons medemens te groei. Deur die eeue was daar veral 7 gewoontes wat gelowiges gehelp het om staande te bly. Drie het te doen met ons leefwyse en lewe: om te vas, om te gee en om die geloofsmaaltyd saam met medegelowiges te vier. Nog drie het te doen met die bestuur van ons tyd: vaste tye vir gebed, die viering van ’n rusdag en om die lewe volgens seisoene te leef. Die sewende gewoonte raak jou liggaam en tyd: ’n pelgrimsreis. Dit gaan oor hierdie vrae: Hoe maak ek ruimte vir God in my besige lewe?

My reis tydens lydenstyd begin deur Jesus te volg, en ook Sy gewoonte om na ‘n plek te gaan om te waak en te bid. Om Hom en Sy gewoontes te wil volg, moet ek eers dink dat Hy en die lewe wat Hy lei wonderlik is. As ek besef dat Sy lewe, en nie net wat Hy geleer het en die feit dat Hy gesterf het belangrik is nie, maar ook hoe Hy geleef het, sal ek Hom wil volg. Sy gewoontes bring my in kontak met die krag van gewoontes en met my eie gewoontes. Ek word na ‘n plek geneem waar ek ‘n diep begeerte kry om soos Hy te lewe, maar ek besef ek sal dit nie self kan regkry nie… Hy sal my moet help.

Wy nou die volgende paar minute wat jy het saam met Hom het aan Hom toe, deur jou voorneme en begeerte om net saam met Hom te wees met Hom te deel.

Wees net… soos jy kan… met Hom in gebed.

Dank Hom dat jy so saam met Hom kan wees en vra Hom vir dit wat jy nodig het vir die dag.

Amen.