Vandag is Saterdag 17 Mei en ons het Sondag Goeieherdersondag gevier. Hierdie week reflekteer ons verder hieroor en vandag dink ons na oor die Herder wat Sy skape versorg . . .
Daar is ʼn storie van ʼn jong man uit Engeland wat in die Australiese Outback gaan kuier het. Soos hy saam met ʼn ou boer uit die omgewing gery het, wys die boer vir hom die ander boere uit die kontrei se plase. Die jong man het gesukkel om in te sien waar een boer se plaas nou eindig en ʼn ander weer begin, want so ver as wat hy kon sien was daar geen heinings tussen die plase nie. Hy het immers groot geword in Engeland waar plase sommer klipmure het as heinings en waar hulle met die spreekwoord ‘Good fences make good neighbors’ saamleef.
Die jong man het gevra hoe die ou boer dan nou weet hoe die grenslyne loop en hoe almal anders daarby sou hou? Die ou boer reageer met ʼn lekker lag in sy swaar Australiese aksent “Sonny, out here we don’t put up fences, we dig wells.”
Jy sien skape moet nie ver weg dwaal van die waterputte nie. God se hartklop vir jou en my is om naby die waterput te bly. Naby die ware bron van lewende water.
Psalm 23:1 verklaar: “Die Here is my herder, niks sal my ontbreek nie.” Die goeie Herder sorg vir elke behoefte van Sy skape. Ons moet net by Hom en in Hom bly.
Die Herder se sorg is volledig – fisies, emosioneel en geestelik. Bly naby die waterput.
Gebed: Here, dankie dat U my goeie Herder is wat voorsien. Help my om op U te vertrou en om nie bekommerd te wees nie. Leer my om U koninkryk eerste te soek. Amen.