Dagstuk | Saterdag 18 Oktober 2025

Dagstuk | Vrydag 17 Oktober 2025

Ons stap hierdie week stadig deur Jesus se woorde in Matteus 11:28: “ Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee.

Vandag rus ons by “…Ek sal julle rus gee.”

Rus is ’n gawe, nie ’n prestasie nie. God gee dit vrylik. Ons kan dit nie verdien nie, net ontvang. Psalm 23:2–3 herinner ons: “In groen weivelde laat Hy my rus; na water waar daar rusplek is, lei Hy my. Hy gee my nuwe lewenskrag;”

Wanneer ons leer om te ontvang, ontdek ons dat rus ook die deur is na genesing — vir ons liggame, verhoudings en die aarde self.

Ons word genooi om vanuit rus te leef, nie na rus toe nie.

’n Bietjie later herhaal Jesus weer sy woorde, maar sê dan “julle sal rus vind vir julle gemoed”. Dikwels is besig wees ’n manier vir ons om die simptoom van die dinge wat onderliggend in ons gemoed leef, te behandel. Ons bly besig, sodat ons nie hoef te dink aan wat regtig in ons gemoed aangaan nie. Ons vul elke oomblik met besig bly, sodat ons nie aan ons eie gedagtes oorgelaat word nie. Jesus nooi ons om rus te vind vir ons gemoed. Ons word genooi om dapper te wees en die dinge wat diep in ons gemoed leef, na die oppervlak te bring in Jesus se teenwoordigheid, sodat ons in Jesus kan rus vind vir ons gemoed.

Wanneer ons vermoeid en belas voel, het ons minder kapasiteit om lief te wees vir ons naaste. Een van die maniere om te verseker dat ’n sisteem van ongeregtigheid mag behou, is om mense soveel as moontlik te belas en uit te put, sodat hulle nie die kapasiteit het om teen die sisteem op te staan nie. Die koninkryk van God werk juis andersom. Jesus gee vir ons rus vir ons gemoed, sodat ons nie meer op ons eie oorlewing gefokus is nie, maar dat ons kapasiteit het om lief te wees vir ander.

Daarom is dit so belangrik om rus te vind in Jesus, sodat jy groter kapasiteit het om die wêreld rondom jou te verander, om lief te wees vir jou naaste en sodat Christus sy koninkryk, deur jou,  kan laat kom.

Mag jy opnuut rus vind in Christus en mag jy gaan leef vanuit rus, tot groter liefde vir die wêreld rondom jou.

Hoe kan jy vandag die geskenk van rus ontvang — en dalk ook aan iemand anders die geskenk van rus gee?

As gebed, word ons genooi om weer hierdie woorde van Jesus te ontvang. Hoor Jesus se uitnodiging met elke herhaling van sy woorde. Neem dan ’n oomblik om rus te vind in sy teenwoordigheid.

Gebed

Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee.

Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal…

Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is…

Kom na My toe, almal…

Kom na My toe…

Kom…

Amen.