Romeine 12:21. Moet jou nie deur kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.
Vandag se teksgedeelte pas mooi aan by gister se gedagte in Jakobus 1:19 dat ons nie vinnig met woede moet reageer nie. Dit vat ons egter ’n stap verder om die kwaad wat in ons gedagtes en emosies dwarrel te deurbreek. Kwade gedagtes het die vermoë om vir baie lank in ons gedagtes en sisteem te bly. Die intensiteit daarvan wissel. Partykeer bars ons in woede uit en ander tye lê dit dormant en wag vir ‘n situasie, of rede om weer te ontvlam. Die uitdaging is om daarvan ontslae te raak sodat dit ons nie beïnvloed nie. Hoe kan ons die kwaad dan deur die goeie oorwin? Dink vandag aan die kwaad wat om jou gebeur en jou frustreer. Hoe is hierdie kwaad besig om jou te oorwin? Hoe kan jy dit vandag baie bewustelik identifiseer en kies om anders te reageer? En as die kwaad wel tot jou deurdring en van jou gedagtes en emosies en gedrag beheer neem, hoe kan jy die siklus daarvan stop? Wat is die goeie wat die Here jou vandag wys en hoe kan jy jou aandag en fokus daarop plaas?
Hemelse Vader,
In ’n wêreld vol onreg, woede en boosheid, help my om nie deur die kwaad oorwin te word nie. Wanneer ek versoek word om wraak te neem of om sleg met sleg te vergeld, herinner my aan U pad — die pad van liefde, van vergifnis, van goedheid.
Here, gee my die krag om die kwaad met die goeie te oorwin. Laat my woorde genesing bring waar daar pyn is. Laat my dade hoop bring waar daar donkerte is. Laat ek lig wees in plekke waar duisternis wil heers.
Leer my om met sagte moed weerstand te bied teen die kwaad, nie deur te stry soos die wêreld stry nie, maar deur U Gees — met nederigheid, waarheid en liefde.
Maak my ’n instrument van vrede, sodat U lig deur my kan skyn, selfs wanneer ek gekonfronteer word met onreg.
Ek kies U weg, Here. Ek kies om goed te doen, selfs wanneer dit moeilik is.
In Jesus se Naam,
Amen.