Wandel in hoop
Teks. 1 Petrus 1:3 – “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood”.
Van kindsdae af onthou ek dié liedjie wat in die kerk gesing is: “As Hy weer kom, as hy weer kom, kom haal Hy sy pêrels”. Ons geloof het ‘n sterk toekomsperspektief wat ons nie kan sien nie, maar waarop ons hoop. Lydenstyd en Paasfees praat egter vandag hard met ons oor die verlede tyd. Ons gaan nie eers eendag verlos word met Jesus se terugkeer nie, ons is reeds verlos! Dit is oor hierdie hedendaagse realiteit dat Paulus in ons teksgedeelte getuig. Ons dank God omdat Hy reeds deur Jesus se dood en opstanding ons die nuwe lewe geskenk het. Hoe verander hierdie belofte ons gesindheid oor die toekoms wat op ons wag? Hierdie seker einde verander beslis die wyse waarop ons vandag in ons hede leef. Dit bring in ons die vermoë om te midde van enige uitdagings wat oor ons pad kom te kan volhard. In Romeine 5 skryf Paulus oor hoe volharding egtheid van geloof kweek en dit vorm gee aan die hoop wat in ons leef.
Gebed
Here, dankie vir u groot liefde en genade, dat U vir ons ‘n nuwe lewe gegee het deur u Seun, Jesus Christus. Deur Sy dood aan die kruis het U ons sondes vergewe en ons vrygemaak van die donkerte van die wêreld. Here, vul ons harte met dankbaarheid en verwondering, dat ons nou kinders van die lig mag wees, nie meer gebonde aan die ou lewe nie, maar nuutgemaak deur u genade en u Gees. Lei ons elke dag op die pad van waarheid, help ons om in gehoorsaamheid en liefde te wandel, sodat ons u lig vir ander kan wees en u Naam verheerlik in alles wat ons doen. Ons loof en prys U, Here, vir die nuwe lewe wat U ons geskenk het. Mag ons U altyd eer met ons woorde, ons dade en ons harte. Amen.