Hierdie week wandel ons verder met gedagtes uit Kolossense 4:2-6.
Kolossense 4:6:
Julle woorde moet altyd van goeie smaak getuig, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe om ‘n ieder en ‘n elk te antwoord.
Vandag sluit ons af met die woordjie ‘hoe’. Dit sou maklik eerder ‘wat om ieder en elk te antwoord’ kon lees as ‘hoe’. Gelowiges is dikwels baie besorg oor die ‘wat’. Ons dink ons is veronderstel om die regte antwoord te op al die vrae wat mense kan vra. Daar is ’n klomp mense op sosiale media wat ’n lewe daaruit maak om mense se vrae op so ’n manier te beantwoord en wil seker maak dat hulle weet ‘wat’ om te antwoord op enige vraag wat iemand vra.
Maar as jy vra, soos hier in Kolossense, hoe ons op mense se vrae moet reageer, dan lyk die antwoorde anders: met liefde, geduld, genade, wysheid.
Die hoe is dikwels baie belangriker as die wat.
Dit vra ook dan vir ons om anders te dink oor wat dit beteken om vir Jesus te volg. Eerder as om te vra wat ek behoort te weet en wat ek moet doen, vra ek hoe behoort ek te leef.
Jy kan al die regte dinge doen, maar as jy dit op ’n manier doen wat nie getuig van God se liefde nie, maak dit nie saak wat jy doen nie.
Hoe kan jy dit wat jy reeds doen, op klein maniere anders doen, sodat God se liefde al hoe meer daardeur sigbaar word?
Luister weer na die week se teks en luister na hoe die Here met jou vandag daardeur praat:
Kolossense 4:2-6:
Volhard in gebed. Wees waaksaam en dankbaar as julle bid. Bid terselfdertyd ook vir ons, dat God vir ons ‘n deur vir die Woord sal oopsluit, om die misterie van Christus te verkondig – dit waarvoor ek in boeie is – en bid dat ek dit met die regte woorde sal kan verduidelik. Tree met wysheid teenoor buitestanders op, en koop die tyd uit. 6Julle woorde moet altyd van goeie smaak getuig, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe om ‘n ieder en ‘n elk te antwoord.
Here, ons maak ons geloof so maklik oor wat ons moet weet of doen, maar vandag word ons herinner aan hoe ons dit moet weet en doen. Mag die manier wat ons leef, besprinkel wees met die sout van u Liefde, sodat wat ook al ons doen, kan getuig van U liefde.
Amen.