In hierdie week, as deel van die maand van barmhartigheid, reflekteer ons oor om van ons besittings te gee.
Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang.”
Ons almal hou daarvan om ’n geskenk te ontvang en ons sal maklik kan dink dat dit lekkerder vir ons is om ’n geskenk te ontvang, as wat dit is om ’n geskenk te kry. Maar verskeie studies en navorsing wys vandag dat Jesus se woorde waar is: ons is gelukkiger wanneer ons gee, as wat ons is wanneer ons ontvang. Ons dink dikwels dat, wanneer ons iets vir iemand anders gee, dit ten koste van onsself is en ten gunste van iemand anders. Maar Jesus se woorde herinner ons dat, wanneer ons gee, ons soveel meer ontvang as wat ons gee.
Dalk is dit vandag vir ons ’n uitnodiging om vir iemand ’n geskenkie te gee – nie noodwendig iets wat ons hoef te gaan koop nie, maar dalk juis ’n geskenk uit iets wat jy reeds het of self gemaak het.
Mag ons Jesus se woorde ernstig opneem dat dit ons gelukkiger maak om te gee as om te ontvang en mag ons vrygewige harte ontwikkel wat ’n verkil in die wêreld maak.
Ons sluit hierdie week af deur weer Ignasius se gebed te bid. Die gebed herinner ons dat alles wat ons het, aan die Here behoort en dat ons net vra vir sy liefde. En as ons net sy liefde het, is liefde al wat ons het om te gee, watter vorm dit ook mag aanneem.
Neem Heer en ontvang al my vryheid, my geheue, my verstand en my volle wil, alles wat ek het en besit. U het alles vir my gegee. Aan U, O Heer, gee ek dit terug. Alles behoort aan U, handel ten volle daarmee volgens U wil. Gee my U liefde en U genade, want dit is genoeg vir my.
Amen