https://youtu.be/9AwWeymoI44
ROMEINE 11:33-36
33O diepte van die TEKS rykdom en wysheid en kennis van God!
Hoe ondeurgrondelik is sy oordele,
hoe onnaspeurlik sy weë!
34“Wie ken die bedoeling van die Here?
Wie gee Hom raad?
35Wie bewys Hom ‘n guns,
sodat Hy verplig is om iets terug te doen?”
36Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.
Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.
Nadat Paulus sy vrae gevra het, loof hy die Here in Rom 11:36: “Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid!” Die woord Amen aan die einde is ‘n goedkeuring, ‘n onderstreping en ‘n bevestiging dat dit so is.
Ondeurgrondelike voel vir my so asof die grootheid van God nie ‘n bodem het nie. Jy kan grawe en grawe en ontleed en verklaar, maar gaan nooit die bodem kry nie – “you’ll never get to the bottom of this”. Jy kan God se grootheid soek, dit selfs probeer Google, maar jy gaan nooit die finale, afgegrensde antwoord kry nie, want jy gaan net aanhou om nog meer en meer oor Hom te ontdek!
Dit neem geloof om oor te gee aan die onmeetbare en onverklaarbare God. Om al meer en meer te weet, en wetenskaplik te kan verduidelik en hoe meer jy weet en hoe meer jy van die wêreld uitvind, te besef hoe min jy regtig van God se grootheid weet. Om eintlik maar net weer by die punt uit te kom dat jy besef dat God NOG GROTER is as wat jy gedink het.
God is die Skepper van die wêreld. God is ons Versorger en Vriend, die Almagtige, Alomteenwoordige God wat ons in genade kies en onvoorwaardelik lief het. God kom wys vir ons deur Jesus hoe God se koningskap op aarde lyk. God is steeds betrokke in mense se lewens en in God se skepping deur die werking van die Heilige Gees.
Gebed van St. Patrick (Uit boek ‘n lewe naby God’ deur Nina Smit’
Ek staan vanoggend op met God se krag wat my rig,
God se mag wat my vashou,
God se hand wat my bewaar,
en God se wysheid wat my lei.
Wees van vanoggend tot vanaand, o Here,
by my en in my.
Christus, wees agter my en voor my,
Christus, wees langs my en rondom my,
Christus, wees bo my en onder my.
Christus, wees by my in die uur van stilte én storm …
praat met my deur die mond van ’n vriend
en deur die oë van ’n vreemdeling.
Amen.