Dagstuk | Saterdag 25 Mei 2024

Dagstuk | Maandag 27 Mei 2024
Dagstuk | Vrydag 24 Mei 2024

Teks: Romeine 15:13. Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees.

In hierdie week wat verby is, is ons herinner hoe die Heilige Gees voortdurend besig is om ons te lei, leer, troos, en te inspireer. In kort, ons geloof word voortdurend deur God oor tyd heen gevorm. Vandag se teks praat met ons oor die pad van geloofsgroei. Ons is in die kerk geleer dat geloof uit twee komponente bestaan: kennis en vertroue. Dit is wonderlik om te besef dat waar ons ook al op hierdie pad van geloof lê (sterk of swak geloof) God ons almal dieselfde liefde en barmhartigheid aanbied. Dink hoe jy oor tyd heen deur hierdie genade gevorm is. Dink aan die goeie en slegte van die verlede, dink aan die uitdagings en spanning van jou hede en die onsekerheid oor die toekoms. Vandag se teks praat met ons oor God, die bron van ons hoop. Mag ons in die gebeure van die komende week en wyse waarop dit in hierdie land gaan uitloop nie uitsig verloor op God in ons verlede, hede en toekoms nie en die wyse waarop Hy deur sy krag ons in staat stel om van hierdie lewe iets besonder te maak.

Gebed

Herinner my, o groot Geneser, dat pyn en siekte, mislukking en teleurstelling en spanning nie U straf op ons foute is nie. Plaas my voete in sulke tye op die stewige rots van U belofte dat U altyd by my sal wees, selfs al gaan ek deur donker dieptes . . . en, Here, leer my die moeilike les dat elke donker uur ‘n besondere geleentheid kan wees om U liefde en genade nóg nader te leer ken.

Amen.