Dagstuk | Saterdag 28 Februarie 2026

Dagstuk | Vrydag 27 Februarie 2026
Dagstuk | Maandag 2 Maart 2026

Esegiël 36:26
Ek sal julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee. Ek sal die kliphart uit julle liggaam haal en julle ’n hart van vlees gee.

Klip is hard en nie-responsief. Dit verander nie van vorm nie — tensy jy dit met ’n hamer en beitel of met ’n masjien in stukke breek. Dit was die realiteit waarin die gelowiges vir wie hierdie teks geskryf is, vasgevang gesit het. Gebeure en omstandighede het hulle hard gemaak, en daar was nie ’n manier waarop hulle self deur daardie hardheid kon breek nie.

God beitel en breek nie aan ons nie; Hy verander die substansie van ons harte.

Wat doen hierdie vers aan jou waar jy voel jy vasgevang sit in die harde werklikheid van wat gebeure en omstandighede aan jou lewe gedoen het? ’n Nuwe hart is nie iets wat ons koop, verdien of voor werk nie. God gee dit op grond van die sterwe van Jesus Christus. Waarom sal ons dit nie aanvaar nie en steeds kies om aan die kliphart te bly beitel?

Gebed
Here, ek kom vandag na U met my ou hart —
’n hart wat soms hard geword het deur teleurstelling,
deur sonde, deur vrees en selfbeskerming.

Neem die hart van klip uit my binneste weg, Here.
Breek die hardheid wat my doof maak vir U stem
en blind maak vir ander se nood.

Gee my ’n hart van vlees — ’n sagte hart wat kan luister,
’n lewende hart wat kan liefhê,
’n gehoorsame hart wat U wil soek.

Skep in my ’n nuwe gees, een wat oop is vir U leiding,
wat nie vasklou aan bitterheid nie,
maar wat vertrou op U genade.

Vernuwe my diep binne-in, waar niemand anders kan sien nie.
Laat my lewe getuig dat U alleen harte kan verander.
Here, maak my nuut — nie net in woorde nie, maar in wese.

Amen.