Kolossense 4:2: Volhard in gebed. Wees waaksaam en dankbaar as julle bid.
“Dankie” is ‘n baie klein woordjie, maar dit beteken baie. Daarom is Meister Eickhardt se woorde so waar: “As ‘Dankie’ die enigste gebed is wat jy ooit bid, is dit genoeg.” As ons God dank vir Sy goedheid en guns, eer ons Hom. Deur vir God “dankie” te sê wys ons Hom dat ons alles waardeer wat Hy vir ons doen en vir wie Hy is. Dankbaarheid is dus nie maar net om die woordjie “dankie” van klein tyd af aan te leer nie. Dankbaarheid is meer as om net gou ‘n “dankie-gebedjie” te bid voor ete. Dankbaarheid is om voor God ‘n dankbare lewe te lei, want alles wat ek is en alles wat ek het kom uit Sy genadige hand.
Dit is lewensbelangrik dat ons ‘n gewoonte daarvan maak om dankbaar te wees sodat wanneer die lewe se storms ons tref, ons sal weet hoe om deur die rowwe waters te vaar. ‘n Deel hiervan is om God te vertrou en selfs om te kies om dankbaar te wees al verstaan ons nie die wêreld om ons nie.
Soos ons aan ‘n gesindheid van dankbaarheid bou, sal dit nie meer iets wees waaroor ons moet dink nie — dit sal so natuurlik word soos om asem te haal.
Vader-God ek erken vandag dat
ek vreeslik onvergenoegd kan wees
en dat dit maklik vir my is om ontevrede, ongelukkig en onvervuld te voel.
En dan is my hele lewe sommer goor!
Vergewe my daarvoor en leer my asseblief hoe om anders na die lewe te kyk.
Leer my om in elke straal van oorvloed U werklik ráák te sien;
om die dinge wat my nie (meer) beskore is nie, eenvoudig vry te laat;
om in tye van yskoue kommer-pyn nog meer teen U te nestel;
en om fases van veranderinge te koester in die wete dat dit nuwe groei en
verwagting kan inhou.
Vader-van-alle-seisoene, leer my die geheim om elke fase en faset van
dit wat ons lewe noem. werklik te lééf, en om in dit alles
met dankbaarheid te dans. AMEN