“Die Een wat neergedaal het, is dieselfde Een wat opgevaar het tot bo al die hemele, sodat Hy alle dinge kon vul.”
Op my onlangse reis in Japan is ek konstant herinner dat ek in ’n vreemde land is. Alles is anders – die taal, kultuur, godsdiens, kos, plante en diere, selfs die toilette is anders. In hierdie hele ander wêreld het ons ’n pelgrimstog gestap vol tempels, heiligdomme en altare wat totaal vreemd is. Op hierdie reis deur hierdie vreemde landskap is ek herinner aan hierdie woorde in Efesiërs. In Paastyd word ons ook daaraan herinner: Christus het opgevaar, nie om in die Hemel te woon nie, maar om alles met sy teenwoordigheid te vul. In ’n vreemde land, in vreemde altare, tempels en mense, het ek op ’n diep manier Christus se teenwoordigheid ervaar. As ons hierdie woorde in Efesiërs ernstig opneem, beteken dit dat Christus in alles en almal is wat oor ons pad kom, waar ook al ons reis en wie ook al ons ontmoet
C.S. Lewis het dit soos volg gestel: “I believe in Christianity as I believe that the sun has risen: not only because I see it, but because by it I see everything else.”
Om te glo in Christus, is om vir Christus in alles en almal anders raak te sien.
Reis vandag verder met hierdie gedagte:
Hoe kan ons leef met ’n bewustheid dat Christus in alles teenwoordig is? En hoe verander hierdie gedagte die manier wat ons op reis is? Hoe hanteer jy die dinge en mense wat oor jou pad kom, wanneer jy besef dat Christus in hulle teenwoordig is?
Here, maak my oë oop vir U teenwoordigheid wat alles bymekaarbring. Amen.