Hebreërs 12:28. Laat ons wat ‘n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil.
God se koninkryk is nie iets wat deur ‘n oorlog, of ‘n wêreld heerser, of enige ander omstandigheid in gedrang gebring kan word nie. Wanneer ons deur die Bybel lees en die gebeure van geskiedenis sedertdien in ag neem blyk dit duidelik. Aardse koninkryke kom en gaan en so ook ons persoonlike koninkryke waaraan ons bou. Alhoewel mense oor tye heen dikwels verkeerde rigtings inslaan het God altyd ‘n manier gevind om ons by plekke van vergifnis, herstel en genesing uit te bring. God laat nie gelate sy skepping aan die willekeur van mense oor nie. Waar laat hierdie gedagte jou in die wêreld waarin jy jouself bevind en waar ons nou die Pinkstertyd ingaan? Ons teksgedeelte laat ons met hierdie kern gedagte: Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil. Mag die Heilige Gees jou in hierdie Pinkstertyd so inspireer.
Gebed
Here, lei my in elke opsig van my lewe: my tong, sodat ek nie onwaarhede sal kwytraak nie; my handelinge, sodat ek niks sal doen wat myself in die skande steek of ander benadeel nie; my verstand, sodat ek nie bitter of boos gedagtes sal dink nie; my hart, dat ek van selfsug sal wegkom en u wil sal soek. Ek vra dit in die Naam van Jesus wat my krag is, want ek is swak. Amen.