Dagstuk | Saterdag 5 Julie 2025

Dagstuk | Vrydag 4 Julie 2025
Dagstuk | Maandag 7 Julie 2025

Tema: Liefde is sterker as die dood

Teks: Romeine 8:38-39. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of bose magte of teenwoordige kragte, of hoogte of diepte of enige iets anders in die skepping kan ons van die liefde van Christus skei nie.

Alles in die skepping getuig van die wonder van God wat in sy groot wysheid alles goed geskep het en bo ons begrip en verstand dit aan mekaar gekoppel het en in stand hou. Binne hierdie skepping kom daar ‘n ryke diversiteit van mense tuis en kry ons te doen met soveel verskillende ervarings en realiteite. Te midde hiervan getuig getuig God se grootheid van ‘n God wat vir sy skepping omgee en wat daarby betrokke is. ‘n Enkele begrip som dit op: God is liefde! In vandag se teks getuig Paulus van die realiteit van ‘n klomp kragte en magte wat elke dag op verskillende maniere op ons inwerk en wat ons lewens op definitiewe maniere beïnvloed, maar dan ook hierdie groter realiteit dat niks ons van die liefde van God kan skei nie.

Ons bid en hoop om in die lewe gespaar te bly van die negatiewe invloed van gebeure. Ten spyte van ons geloof oorweldig die realiteite van hierdie wêreld ons op ‘n daaglikse basis. Vandag se teks help ons om hiermee saam te leef en nie elke keer ontnugter te wees as ons daaraan blootgestel word nie en om dan vrede te vind in iets wat veel groter is: God is liefde en niks kan ons van die liefde van Christus skei nie. Hierdie is nie net ‘n blote godsdienstige gedagte nie, maar ‘n manier waarop die Here se krag daagliks in ons werk. Dink vandag aan groter realiteite wat jou kom oorweldig. Beleef hoe die Here te midde hiervan op praktiese maniere jou die krag gee om dit te kan hanteer en te oorwin.

Gebed

Here God, U liefde is sonder einde, diep en wyd en sterker as die dood self.
Wanneer ons hart breek van verlies, wanneer die dood soos ’n muur tussen ons en geliefdes voel, bly U liefde ’n brug wat ons verbind, ’n lig wat nooit dof word nie.

Dankie dat niks – nie dood of lewe, nie pyn of skeiding, nie verlede of toekoms –
ons van U liefde kan skei nie. Dankie dat U liefde teenwoordig bly,
selfs waar ons dit nie kan sien nie.

Troos ons, Here, in tye van rou. Herinner ons daaraan dat liefde wat uit U kom,
nooit verniet gaan nie, nooit verlore raak nie – maar leef, selfs oor die grens van die graf.

Mag ons daardie liefde uitleef, met hoop en sagtheid, en weet: ons is vir altyd geborge in U hand.

Amen.