In hierdie week reis ons saam met tekste uit die verhaal van Daniël, wat ons leer om in ’n veranderende wêreld getrou te bly aan God. Vandag sluit ons af met ’n teksgedeelte uit die begin van die verhaal in Daniël 2.
Daniel 2:20-223
Daniël het gesê:
“Mag die Naam van God altyd geprys word, Hy aan wie die wysheid en die mag behoort, 21Hy wat tye en omstandighede verander,
wat konings afsit en konings aanstel, wat aan die wyse manne die wysheid gee en die verstand aan dié wat insig het, 22wat ondeurgrondelike en verborge dinge openbaar en wat weet wat in die duisternis is; by Hom is die lig.
23Ek loof en prys U, God van my voorvaders, omdat U aan my wysheid en mag gegee het. U het aan my bekend gemaak wat ons van U gevra het, U het aan ons bekend gemaak wat om aan die koning te sê.”
Refleksie
Hierdie woorde aan die begin van Daniël is in ’n klomp maniere die agtergrond waarteen die hele verhaal afspeel. Net voor hierdie gedeelte, dreig die Koning om al die wyse manne in die land dood te maak as daar niemand gevind word wat sy droom kan uitlê nie. Nadat Daniël in sy eie drome insig kry om die droom van die koning uit te lê, sing hy hierdie lofsang aan God. Daniël maak dit van die begin af duidelik dat dit nie uit sy eie insig of wysheid kom nie, maar dat God die een is wat die wysheid en insig het en dat God betrokke is in die wêreld. Ons kan onsself indink dat die mense wat in ballingskap geleef het, vrae gevra het soos ‘waar is God in hierdie tyd waarin ons leef?’ en stellings gemaak het soos ‘as God regtig by ons was, sou niks van hierdie gebeur het nie’. Vir hierdie mense en vir ons vandag, maak die verhaal dit duidelik dat God nie afwesig is nie, maar betrokke is te midde van die krisisse wat ons beleef en besig is om herstel te bring in die wêreld.
God doen dit, deur gewone mense soos Daniël en sy vriende te gebruik. Die punt van Daniël se loflied, is om dit duidelik te maak dat Daniël nie spesiaal is nie – hy is ’n gewone mens wat in ongewone omstandighede leef en dat God hom in hierdie omstandighede gebruik. Ons sal ’n fout maak om vir Daniël as ’n superhero te sien. Daniël is minder soos ’n held uit ’n Marvel film en meer soos iemand soos Frodo in Tolkien se Lord of the Rings – iemand onbelangrik en gewoon wat in ongewone omstandighede probeer om die onmoontlike moontlik te maak.
Daniël se verhaal gaan nie oor Daniël nie, maar oor die God wat gewone mense gebruik om ’n verskil in die wêreld te maak.
Dit is ook waarheen Jesus ons uitnooi wanneer Hy ons nooi om Hom te volg in ’n lewe van radikale liefde en ons leer om te bid: Laat U koninkryk kom, soos in die hemel, so ook op die aarde. Jesus nooi ons om as gewone mense, in ongewone omstandighede God se koninkryk sigbaar te maak deur in liefde te leef.
Ons sluit hierdie week se refleksies af met twee aanhalings, een van Tolkien en een van Moeder Theresa.
Tolkien skryf:
“I have found that it is the small everyday deed of ordinary folks that keep the darkness at bay. Small acts of kindness and love.”
Moeder Theresa skryf:
“Not all of us can do great things. But we can do small things with great love.”
Reflekteer vandag oor hierdie twee aanhalings, terwyl jy dink aan die verhaal van Daniël.
Gebed
Here, dankie dat ons kan weet dat U nie vêr van ons af is nie, maar dat U betrokke is in die wêreld. So betrokke dat U selfs mens sou word in Jesus Christus om vir ons ’n voorbeeld te wees van liefde en genade. Gebruik ons om as gewone mense met groot liefde te leef en U koninkryk sigbaar te maak, soos in die hemel, so ook op die aarde
Amen