https://youtu.be/jJWOIALQumc
Genesis 1:27 God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het hy die mense geskep.
Baie mense verhef die mens in God se skepping en sê dan dat die mens die kroon van God se skepping is. Baie vroeg in Genesis lees ons dan die verhaal van die toring van Babel en Noag en hoe God ontnugter van die mensdom ontslae wil raak. God se frustrasie blyk uit mense wat hulle eie koninkryke probeer bou het en daardeur onbedagsaam en onverantwoordelik binne sy skepping leef. Ek dink dat ons dikwels ons posisie in God se skepping oorskat en soortgelyk onbedagsaam leef. Wanneer God die mens skape en aanstel om oor die skepping te heers as sy verteenwoordiger het hy ons as medeskeppers aangestel. Dit behels veel meer as net ‘n ekologiese bewussyn. In vandag se konteks van tegnologie en innovasie nooi God ons uit om kreatiewe en versorgende medewerkers te wees. Elke mense se uniekheid op hierdie planeet is deel van God se geskape werklikheid. Die gedagte draai gelowiges se koppe na ‘n baie groter realiteit van die wêreld waarin ons leef. En ja, dit daag ons eie eng sienings uit oor waarmee God vandag in hierdie wêreld besig is. Omgee vir wat God voor omgee kan ‘n baie blootstellende ervaring wees, maar is op die einde bevrydend en bring ons veel nader aan die vrede waaroor Jesus met ons praat. Hoe dink jy vandag oor die wêreld waarin jy jouself bevind? Hoe is die Here besig om deur ‘n groter omgee jou deel te maak van sy skepping?
Gebed
Here, Skepper van hemel en aarde,
U het ons gemaak na U beeld,
en ons geroep om saam te werk in U skepping.
Gee dat ons die gawes wat U aan ons toevertrou het,
sal gebruik met wysheid en verbeelding,
sodat ons nie net neem nie,
maar ook skep, herstel en versorg.
Laat ons hande nuwe dinge vorm tot U eer,
laat ons woorde hoop bring in ’n stukkende wêreld,
en laat ons dade lewe uitstraal waar daar dood is.
Here, herinner ons dat kreatiwiteit ’n daad van geloof is,
’n antwoord op U uitnodiging om lig in duisternis te bring.
Mag ons met vreugde werk, met nederigheid skep,
en met liefde deel,
sodat U koninkryk al hoe duideliker sigbaar word in U skepping.
Amen.