Dagstuk | Saterdag 7 Desember 2024

Dagstuk | Vrydag 6 Desember 2024
Dagstuk | Maandag 9 Desember 2024

https://youtu.be/iUxYKma_DnI

Johannes 1:14

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

Ons word geleer om naby God te leef. Ons soek God deur te probeer verstaan. Tog praat Paulus in Romeine 11 oor God wat onbegryplik is en hoe ons die weë van God kan verstaan. Christene voel so dikwels hierbinne vasgevang. Hoekom dan probeer om naby God te kom as dit nie binne ons verstandelike bereik is nie? Johannes praat nie met ons oor ’n soeke na God nie, maar oor God wat ons kom vind. Hoe kom vind God ons? Deur ons menswees! Ons menswees omvat baie meer as net die vermoë van ons verstand. Wanneer Paulus die bekende teks van God se onbegryplikheid in Romeine 11 afsluit sê hy: Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid. Neem tyd en dink wat dit vandag vir jou en mense om jou beteken. Dit is besonders om in hierdie adventstyd te beleef hoe naby God aan elkeen van ons kom, maar meer besonder om te vind hoe naby dit jou vandag aan enige ander mens bring.

 

Gebed

 

Here, verlig my verstand en my interpretaie.

Here, verlig my oë en die manier waarop ek kyk.

Here, verlig my mond en my woorde.

Here, verlig my hart en dit wat ek bedink.

Here, wees met my waar ek nou hiervandaan vertrek.

Amen.