BOODSKAP
“Ek kan nie glo ek het dit al weer gedoen nie!” Hoeveel keer het jy dit nie al vir jouself gesê nie? Ons probeer om ons woorde en aksies te beheer, maar daar is altyd daardie goed wat ons irriteer en dan gee ons toe aan die versoeking. Almal, Christene en nie-Christene, voer lewenslank hiermee ‘n stryd.
Die finale aspek van die vrug van die Gees wat ons bespreek, is die vermoë om ons gedrag te beheer. Die Engelse King James Bybel gebruik die woord ‘temperance’ wat met ‘matigheid’ vertaal kan word. Die Afrikaanse “Die Bybel vir almal” gebruik die woord ‘kalm’, maar die meeste Bybelvertalings, insluitende die Afrikaanse 1933/53- en die 1983-vertaling gebruik selfbeheersing. Selfbeheersing is nie wilskrag nie. Dit is vasberadenheid om beter te doen.
Om egter van die “eie ek” te verwag om homself te beheer, is soos om van ‘n jakkals te verwag om die hoenders op te pas, dit is nie iets wat natuurlik kom nie. Ons moet deur die Gees beheer word sodat God in ons kan regeer.
Selfbeheersing beteken om nie net vrye teuels te gee aan enige saak, goed of sleg nie. Selfbeheering is om jou deur die Heilige Gees te laat lei, sodat jy in verantwoordelikheid, tot eer van God, volgens die wet van God in diepe geloof, kan optree. Die Skrif is vol van voorbeelde oor mense wat nie biddend, selfbeheersing toegepas het nie. Een so voorbeeld is Moses (Ex 2:12). Nadat Moses gesien het hoe ‘n Egiptenaar ‘n Israeliet aanrand het hy die Egiptenaar doodgeslaan in woede en vergelding. Daar was gebrek aan selfbeheersing by Moses. Hoe vaar jy met selfbeheersing? Laat die Heilige Gees jou ook daarmee help.
‘n Gebed om Selfbeheersing
Heilige Gees, mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees! Ek wil U nie bedroef deur ‘n lewe te lei wat onwaardig is vir die roeping wat U in my lewe geplaas het nie. In plaas daarvan wil ek ‘n gedissiplineerde, bedagsame lewe lei, want ek weet dat dit U eer. As ek dus in die versoeking kom om toe te gee aan woede, selfsug of trots, help my om ander hoër te ag, en laat my toe om dit in nederigheid en genade te doen. Ek gee beheer oor my lewe aan U oor. In die Naam van Jesus, amen