Dagstuk | Saterdag 8 November 2025

Dagstuk | Vrydag 7 November 2025
Dagstuk | Maandag 10 November 2025

Teks: Openbaring 19:6–7

“Halleluja! Die Here, ons God, die Almagtige, het sy koningskap opgeneem.
Laat ons bly wees en jubel, en aan Hom die heerlikheid gee,
want die bruilofsfees van die Lam het aangebreek,
en sy bruid het haar gereedgemaak.”


BOODSKAP

Die laaste fees waarby ons vandag stil staan, is die bruilofsfees van die Lam waarvan ons in Openbaring lees.

Johannes was op die eiland Patmos toe God aan hom iets van die eindtyd openbaar het. Hy ontvang die opdrag om alles wat hy sien neer te skryf. Hoe die visioene van Openbaring presies gaan afspeel, of wanneer dit sal gebeur, weet niemand met sekerheid nie — maar een ding weet ons beslis:
Daar sal ’n wederkoms wees.
Die wederkoms van Christus is net so seker as Sy geboorte, kruisiging en hemelvaart.

Die gedeelte wat ons vandag lees, vorm deel van die slot van Openbaring (hoofstukke 19–22). Hier bereik alles sy hoogtepunt. Johannes hoor ’n geweldige gedruis — soos die gedreun van groot waters — en ’n menigte wat God, die Almagtige, loof omdat Hy nou as Koning regeer. ’n Groot fees het aangebreek!

Waaroor is daar só ’n groot vreugde in die hemel?
Ná die vernietiging van al die bose magte, word God se heerskappy nou openlik erken. Die lofprysing is ’n jubel oor die oorwinning van die Almagtige God — Hy is nou die ewige en enigste Koning! En wat volg, is die groot fees waar hierdie oorwinning gevier word — die bruilofsfees van die Lam.

Hierdie hemelse fees sal aanbreek wanneer Jesus Sy volgelinge kom haal om saam met Hom aan die tafel te sit en die ewige vreugde te deel.


Terwyl Jesus nou ons plek in die hemel voorberei, moet ons, Sy kerk, ons gereed maak vir Sy koms.
Hoe maak die kerk haar gereed vir Christus se wederkoms?

Openbaring 19:8 gee vir ons die antwoord:

“God het haar dit vergun om fyn, helder, blink klere aan te trek.
Hierdie fyn klere is die regverdige dade van die gelowiges.”

Wat beteken dit?
Hierdie regverdige dade is nie iets wat ons in eie krag kan doen nie. Dit is eerder die genade van God wat in en deur ons werk, sodat ons Sy opdrag kan uitvoer totdat Hy weer op die wolke verskyn.

Ons — die kerk van Christus, Sy gemeente — moet onsself dus voortdurend gereed hou vir Sy koms deur besig te wees met goeie en regverdige dade. Ons moet nederig en afhanklik van God bly, en ten spyte van die versoekings van die wêreld, as sout en lig leef.

Ek wat deel is van God se kerk, moet myself gereeld afvra:

  • Is ek steeds toegewyd aan Christus?

  • Is Christus vir my alles?

  • En waarmee is ek besig?
    Is ek besig om myself gereed te maak vir die groot fees waarvoor ek genooi is — die bruilofsmaal van die Lam?


GEBED

Hemelse Vader,
ek kom na U met ontsag en verwagting,
en ek verlang na die heerlike wederkoms van U Seun, Jesus Christus.

U het belowe dat Hy weer sal kom —
nie in nederigheid nie, maar in heerlikheid en krag —
om die lewendes en die dooies te oordeel,
en alles nuut te maak.

Here Jesus,
terwyl ons op U terugkeer wag,
help my om waaksaam, getrou en vol hoop te wees.
Hou my hart vry van vrees en gevul met geloof.
Laat ek nie aan die slaap gevind word nie,
maar besig met diens —
om ’n lewe te leef wat U eer,
in woord en daad.

Amen.