Dagstuk | Saterdag 9 November 2024

Dagstuk | Vrydag 8 November 2024
Dagstuk | Maandag 11 November 2024

https://www.youtube.com/watch?v=O2uTLM1WGQw

In hierdie week reis ons saam met tekste uit die verhaal van Jona, wat ons nooi om te vernuwe deur bewus te word van die belaglikheid van ons eie harte.

Daniel 2:20-223

10Toe sê die Here: “Jy is besorg oor die kasterolieplant waarmee jy geen moeite gedoen het nie en wat jy nie laat groei het nie, wat oornag opgekom het en oornag tot niet is. 11Maar Ek, Ek mag nie besorg wees oor Nineve nie, die groot stad waarin daar meer as honderd-en-twintigduisend mense is wat die verskil tussen regs en links nie ken nie, en ook nog baie diere?

Refleksie

Vandag se teksgedeelte is die heel laaste woorde in die boek van Jona. In die gedeelte net voor hierdie, sit Jona in sak en as buite die stad en wens om dood te gaan, omdat hy nie kan saamleef met die feit dat God genadig is teenoor Nineve nie. Terwyl hy daar sit, laat God ’n rankplant opkom om skaduwee vir Jona te gee, wat Jona se hart bly maak. ’n Rukkie later stuur God ’n wurm om die plant se wortels op te eet, wat die plant laat doodgaan en wat Jona weer ontstel. God vra  dan vir Jona: Het jy rede om kwaad te wees? Waarop Jona antwoord: “Ek het rede genoeg, ek is tot die dood toe kwaad” en hy wens op die manier weer dat hy sou sterf.

Die plant wat opkom en weer sterf, waaroor Jona ontsteld raak, is die Here se manier om te probeer deurkom na Jona. As Jona besorg mag wees oor die plant wat opkom en sterf, mag die Here dan nie besorg wees oor ’n groot stad soos Nineve wat baie mense in het nie en ook nog baie diere nie.

Wat is Jona se reaksie hierop? Ons weet nie, God het die laaste woord in die verhaal. Maar dit is juis die punt. Die storie van Jona is gemik daarop om met jóú te mors, om ons te nooi om onsself raak te sien in die karakter van Jona en vir ons die donkerste kan van ons hart te openbaar. En dit is die goeie nuus van Jona, dat God nie net genadig is teenoor Nineve nie, maar dat God ook iemand soos Jona kan aanvaar en gebruik, ten spyte van die die donkerte van sy hart. En dat God ’n pad saam met Jona stap om ook sy hart om te keer en te transformeer, soos wat Nineve omgekeer is.

Is jy nie bly dat God sý vyande lief het nie en bereid is om met die Jona in elkeen van ons ’n pad te stap nie? Mag die Here ook ons harte omkeer en transformeer, om barmhartig en genadig, lankmoedig en vol liefde te wees.

Gebed

Here, dankie dat U ’n genadige God is, genadig genoeg om geduld te hê met die Jona in elkeen van ons. Mag U ons ook bewus maak van die belaglikheid van ons eie harte en hoe ons sukkel om lief te hê en genadig te wees. Keer ons hart om en transformeer ons. Vernuwe ons harte om meer en meer soos U hart te wees.

Amen