Jakobus 1:19. My liewe broers, dit moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou om te praat nie en nie te gou om kwaad te word nie. ‘n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie.
Wat maak jou kwaad? Ons sal elke dag ‘n lys kan maak van dinge en mense wat ons kwaad maak. Wat sit agter die emosie van kwaad? Dit is ‘n algemene menslike emosie wat by ons opkom wat ons laat veg, of vlug. Kwaad is die frustrasie dat ons nie beheer oor ‘n situasie het nie en is gekoppel aan gevoelens van onreg, magteloosheid en vernedering. Dit dwing ons in eenvoudig swart en wit denke, dit maak dat ons situasies katastrofeer en vang ons vas in ‘n sirkelgang van negatiewe gedagtes. In kort: Om kwaad te word is die emosie wat by ons opkom wanneer dit voel ons beheer oor situasies verloor en dit bring ons by reaksies en aksies wat nie reg is nie. Hoe keer ons die kwaad-word-emosie van kwaad doen? Ons teksgedeelte praat eerstens oor die vermoë om “nie te gou kwaad te word nie”. Met ander woorde nie impulsief op alles wat buite ons beheer is te reageer nie en dan die vermoë om nie te gou ons eie opinie te gee nie, maar eerder te luister. Jakobus se teks praat in wese met ons oor ’n lewe wat op die Here vertrou in situasies waar ons uit beheer voel. Dit bring ons om te erken dat God op ‘n groter manier in die kwessie wat ons kwaadmaak betrokke is en die insig dat oplossings eerder daarin lê om na ander te luister as na onsself.
Gebed
Hemelse Vader,
Dankie dat U my leer om met wysheid te leef. U Woord sê ek moet gou wees om te luister, stadig om te praat, en stadig om kwaad te word. Maar Here, ek bely dat woede soms my hart oorneem – woede wat seermaak, wat oordeel en wat nie U vrede weerspieël nie.
Ek vra dat U my hart sal stilmaak. Leer my om eers te luister voordat ek reageer. Laat my woorde sag en vol genade wees. Breek die wortels van woede in my – of dit uit vrees, pyn of trots kom – en vul my eerder met U Heilige Gees se vrug: geduld, liefde en selfbeheersing.
Help my, Here, om U rus te kies bo woede, om ander met respek te hanteer, selfs wanneer ek uitgedaag word. Mag ek in elke gesprek ‘n draer van vrede wees en nie van verdeeldheid nie. Dankie dat U my verander van binne af. U genade is groter as my swakhede.
In Jesus se Naam,
Amen.