Dagstuk | Vrydag 10 Mei 2024

Dagstuk | Saterdag 11 Mei 2024
Dagstuk | Donderdag 9 Mei 2024

Teks: Johannes 10:11

11“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.

GEDAGTE

As Jesus hier in Johannes 10 die herderskap op Homself van toepassing maak, as die Goeie Herder stel Hy ’n alternatief op die leierskap van daardie tyd. Jesus se leierskap word deur diensbaarheid geillustreer – een wat ander se voete was. Anders as die leiers van Israel, is Hy die Goeie Herder, want Hy gee om vir God se mense soos ’n goeie herder vir sy skape omgee. Hy het die mense lief. Hy spandeer tyd om na hulle te luister. Hy vergewe hulle en herstel hulle menswaardigheid. Hy help hulle om op God te fokus en bemagtig hulle om voluit te leef!

Jesus is die goeie herder‚ want “Hy roep sy skape op hulle name.” Twee keer sê Hy: “Ek ken my skape” . Vir Jesus as leier het dit nie net gegaan oor leierskap en beheer nie, maar Hy kom stel ’n alternatief. Dit is om ’n persoonlike verhouding met Sy volgelinge te hê. Vir die Joodse leiers het dit egter daaroor gegaan dat hulle die wet wou afdwing asook oor mag en beheer. Vir Jesus gaan dit oor ’n liefdesverhouding.

Dit herinner ons aan Jesaja 43:1: “Ek het jou op jou naam geroep‚ jy is Myne.” .  God die Vader wil nie net ’n Heerser wees wat mag op ons afdwing nie. Nee, deur die Here Jesus wil Hy vir ons ’n Herder wees wat ons liefdevol lei. ’n Herder wat ons elkeen op die naam ken en wat deeglik bewus is van elkeen se omstandighede en jou hartseer, pyn, bekommernisse ken. Hy ken dus hulle name sowel as hul omstandighede tot in die fynste besonderhede. Sy “ken” is nie ’n kennisneem of net ’n koue rasionele weet van ons nie. Sy “ken” is so onbeskryflik intiem soos wat die verhouding tussen God en sy Seun is. Hy weet wat elkeen van sy skape nodig het en voorsien met liefdevolle sorg in elkeen se behoeftes

Die Goeie Herder weet wie ek is..

In die Goeie Herder se hande is ek veilig.

Die Goeie Herder wat inklusief is.

Die Goeie Herder wat Sy lewe vir my aflê.

Wees stil en weet dat die Goeie Herder is in beheer.

Wees stil en weet dat die Goeie Herder weet van jou pyn en jou donkerste nag.

Wees stil en weet dat jy met jou kommer en vrees na die Goeie Herder toe kan gaan.

Wees stil en weet…….

GEBED

Dankie Here dat U my Herder is en my lei.

Amen