1Josef kon hom nie langer bedwing voor almal wat langs hom staan nie, en roep toe uit: “Stuur almal uit, weg van my af!” Daar het niemand anders by hom gestaan toe Josef hom aan sy broers bekend gemaak het nie. 2Hy het hardop begin huil. Die Egiptenare het dit gehoor, ja, ook die huis van die farao het dit gehoor.
In die middel van die verhaal van Josef, beleef Josef dalk sy grootste krisis wanneer sy broers tydens die hongersnood opdaag om kos in Egipte te koop. As jy die verhaal vir die eerste keer hoor, sou jy dalk gespanne wees oor wat Josef met sy broers gaan doen. Gaan Josef hulle terug kry vir wat hulle aan hom gedoen het, of nie? Dalk sou dit regverdig wees as Josef besluit het om hulle terug te kry. Dit sou hulle verdiende loon wees.
Maar Josef kies die moeiliker pad. Die pad van herstel. Iets in die verhaal van Josef laat ons besef dat dit ook die pad is wat die Here kies om saam met die mensdom te stap. God kies om saam met mense ’n pad te stap en herstel te bring aan gebroke verhoudings – verhoudings tussen God en mens, mense en mekaar, mense en hulself en mense en die aarde.
In ons moderne samelewing gooi ons maklik iets weg wat gebreek is. Ons doen dit met gebroke verhoudings ook. God kies om dit nie te doen nie, maar om herstel te bring.
Kyk na die wêreld rondom jou.
Waar sien jy dat mense die maklike uitweg kies, eerder as om wat stukkend is, te probeer herstel? Wat is die gevolge hiervan?
Waar sien jy dat mense kies om die moeilike pad van herstel te stap? Wat is die gevolg hiervan?
Is daar dalk ’n verhouding in jou eie lewe wat herstel nodig het?
Here, dankie dat U nie opgee op ons nie, maar bereid is om ’n pad van herstel saam met ons te stap. Help ons ook om dit vir mekaar te doen.
Amen.