Dagstuk | Vrydag 12 Januarie 2024

Dagstuk | Saterdag 13 Januarie 2024
Dagstuk | Donderdag 11 Januarie 2024

Vandag is Vrydag 12 Januarie en ons is tans in die kerklike seisoen wat ons noem Epifanie. Die fokus van Epifanie is die viering van God se verskyning en bekendwording aan ons. Epifanie verkondig dat God hier is. Regdeur die Bybel sien ons hoedat mense van God se teenwoordigheid bewus raak en hoe hulle daarop reageer. Epifanietyd daag ons uit om voor God se aangesig te leef en ons identiteit daar te laat vorm. Vandag reflekteer ons verder oor hierdie tydperk van Epifanie met die tema:

Nuwe Begin

Bybelteks: Klaagliedere 3:22-23

“Dit is die goedertierenhede van die Here dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre nuut; u trou is groot.”

Wysheid: Leer Voortdurend. Streef daarna om voortdurend te leer, te groei en te vernuwe. Lees boeke, neem kursusse, en wees oop vir nuwe idees. Mag die kreatiewe God van die heelal kreatiwiteit in jou kom wakker maak in 2024 en op so ’n manier Homself aan jou openbaar. ‘n Lewe van voortdurende leer kan ‘n lewe van betekenis en vervulling bevorder. Die lewe bestaan uit ’n reeks nuwe beginne. Elke dag is vol nuwe geleenthede en moontlikhede. God se genade is elke dag nuut. Begin dus iets nuuts hierdie jaar, dis deel van die avontuur van nuwe beginne. Om voortdurend te vernuwe is ’n uitnodiging aan ons om nader aan God en mekaar te beweeg. Mag God dus in hierdie tyd van Epifanie Homself opnuut aan jou openbaar vol beloftes van nuutmaak, mooimaak, vrymaak en heelmaak, want aan Sy liefde is daar geen einde nie. Dit is elke môre nuut en Sy trou is groot.

Gebed: Here, ek erken U goedertierenheid en barmhartigheid. Dankie vir ’n nuwe begin. Mag my hart elke dag vernuwe deur U genade en mag ek iets nuuts leer van wie U is.

Amen.