Job 42:5. God verskyn in ons worsteling
Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien en nou verag ek myself, nou sit ek vol berou, in sak en as.
Job is ‘n baie unieke Bybelboek. Dit is geskryf teen die agtergrond van gelowiges wat antwoorde probeer vind waarom siekte en ongeluk gelowiges se lewens tref. Die tradisionele antwoord was dat dit voorkom kan word omdat dit op een of ander manier met sonde verband hou. Gelowiges het gereken dat dit die manier is waarop God hulle forseer om om te draai. In die tyd van Jesus se bediening was dit ook die verklaring waarom die gemeenskap siek mense en mense met gebreke uit die samelewing uitgestoot het. Die feit dat Jesus sy aandag op hierdie groep mense, wat onregverdig beoordeel is, gerig het, spreek boekdele. Job is deel van ‘n reeks Bybelboeke wat kritiek uitspreek teen gelowiges se resepmatige verklarings. Terwyl Job se vriende hom beskuldig dat hierdie straf verdiend is en dat hy iets verkeerd moes gedoen het, hou Job daarmee vol dat hy onskuldig is. Beide blyk verkeerd te wees. Die oomblik van openbaring breek met ons teks aan wanneer Job ten spyte van al die opinies en standpunte van sy vriende, self tot ‘n dieper insig kom. God is soewerein en pas nie in by die patroon van ons godsdienstige oorsaak-en-gevolg resepte nie. Maar dan in hierdie insig van God se grootheid breek die een ding wat saakmaak tot hom deur naamlik, dat God hom nie gelos het nie. Job is in rou en sit in sak en as omdat hy opgetree het asof God nie omgee nie. Ons hoef God nie te verklaar nie, of Hom te verstaan alvorens Hy verskyn nie. God verskyn in ons worsteling met die onverstaanbare. Wat hierdie verskyning so kragtig maak, is dat dit ons by ‘n plek van vrede bring wat ons veerkragtig maak om soos Job in hierdie omstandighede te leef en selfs te floreer.
Gebed
Here, ek dank U vir rus en vrede wat by U te kry is soos nêrens anders nie. Hoe verstommend dat U wat almagtig is en aan wie alle eer en majesteit behoort, ook sagmoedig en naderig van hart is. Dankie, Here, dat wanneer ek met U praat, U my juk van alledaagse bekommernisse draagliker maak en my laste ligter laat voel wanneer U fluister: Kom na my toe almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.