Dagstuk | Vrydag 14 Maart 2025

Dagstuk | Donderdag 13 Maart 2024

TEKS: GENESIS 13:16

16En Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat as iemand die stof van die aarde kan tel, jou nageslag ook getel kan word.

TEMA: Gestroop van my steunpilare

 

BOODSKAP

Soms word ons ook gestroop van ons steunpilare. Daardie dinge in die lewe wat ons op staatmaak om ons lewe in plek te hou. Maar dikwels val die spreekwoordelike bodem uit. Dan is ons weerloos omrede ons gestroop is van ons steunpilare Ons besef nie altyd hoe wankelrig die pilare is waarop ons in hierdie lewe steun nie.

Sara en Abraham het vir meer as 25 jaar gesteun op die belofte van God vir ‘n kind. Om die waarheid te sê ‘n groot nageslag en daar was geen teken van ‘n kind nie.: Tye toe hulle vergeefs moes wag dat God se belofte van ’n nageslagkind sou waar word. En hoe langer hulle op nuwe lewe gewag het, hoe skraler het die kans geword dat daar léwe geskep kon word. Wie kan immers op negentigjarige ouderdom ’n kind in die wêreld bring. En tóg, juis toe dit heeltemal te laat was … tóé laat God die onmoontlike wonder gebeur: Isak word gebore!

God se trou is nie afhanklik van uiterlike omstandighede en menslike volharding nie. God se trou is ’n wesenskenmerk van Gód — dis iets veel groters as wat ons menseverstand ooit kan verstaan. Daarom kan God jaar na jaar weer lewe blaas in die dooie takke van die natuur. En dáárom kan enige verlore situasie radikaal verander en ’n uitsiglose wêreld in ’n lewe van hoop verander. God is nie afhanklik van ons menslike steunpilare nie.

God is altyd getrou. Ook in die wintertye van jou lewe wanneer ’n deel van jou dood en leweloos voel. Ja, ook dán kan Hy met sy grootheid en genade weer nuwe lewe skep wat met oorgawe kan groei en blom. Lewe daarom — ongeag jou omstandighede — met moed.

 

GEBED

Here, soms steun ek te veel op my eie gemaakte steunpilare. En as hulle in mekaar tuimel dan val my lewe uit mekaar. Leer my om op U te steun en te vertrou. Amen