Dagstuk | Vrydag 16 Januarie 2026

Dagstuk | Donderdag 15 Januarie 2026
Dagstuk | Saterdag 17 Januarie 2026

TEKS

Psalm 27:7–10
“Luister tog na my, Here, as ek roep; wees my genadig en verhoor my gebed.
Ek onthou wat U gesê het: ‘Julle moet My kom dien!’ Ek is hier om U te dien, Here.
Moet U tog nie vir my verberg nie, moet my tog nie wegstuur terwyl U toornig is nie, want U was nog altyd my hulp.
Moet my tog nie verstoot en verlaat nie, want U alleen is die God wat my red.
Al sou my vader en my moeder my verlaat, die Here sal my onder sy sorg neem.”

TEMA

Moenie u aangesig vir my verberg nie


BOODSKAP

Het jy al die ervaring gehad dat jy vir mense skryf of boodskappe stuur — en daar kom net geen antwoord nie? Ek beleef dit self gereeld. Ek het al verskeie kere aan persone en organisasies geskryf sonder enige reaksie. Dit is uiters frustrerend. Dit voel asof jou woorde nie belangrik genoeg is nie, asof jy eenvoudig geïgnoreer word.

Dalk het jy iets soortgelyks in jou geloof beleef. Jy bid tot God, maar daar kom geen antwoord nie. Al wat jy hoor, is die vreesaanjaende stilte. Geen uitkoms. Geen lig in die donker tonnel nie. Geen wonder Dawid bid hier:
“Moet U tog nie vir my verberg nie.”

Hierdie wagtye is swaar. Wanneer God stil is, voel dit soms asof Hy sy aangesig vir ons verberg. Ons weet teologies dat God alomteenwoordig is, maar emosioneel voel dit asof Hy ver is. Ons hoor van herlewings en ervaar vir ’n oomblik hoop — soos ’n boer in droogte wat die eerste wolke sien saampak. Maar dan trek dit weer weg, en die hoop sak terug in sy skoene.

Dit is tye waarin ons voel ons geloof is al meer as genoeg getoets. Die Here behoort tog te weet dat ons Hom opreg volg. Waarom is daar dan soveel stilte van die hemel se kant af?

Ons het nie altyd antwoorde hierop nie. Al wat ons kan doen, is om soos Dawid kinderlik te bly bid dat God by ons sal wees in hierdie stil tye. En hierin lê ’n diep waarheid:

God is soms stil —
maar Hy is nooit afwesig nie.

Sy stilte is nie sy afwesigheid nie. Sy stilte is dikwels ’n uitnodiging om dieper te vertrou.


GEBED

Here,
in my wagtyd op U, maak my geduldig.
In my verwarring, lei my voetstappe.

Wanneer ek alleen voel, herinner my daaraan dat U naby is.
Wanneer ek sukkel om U te hoor, maak my hart oop vir u stem.

Spreek deur u Woord,
deur vrede in my gees,
en deur die pad wat U vir my bepaal.

Ek vertrou dat U my hoor,
en ek glo dat U sal spreek in u volmaakte tyd.

Amen.