Dagstuk | Vrydag 20 September 2024

Dagstuk | Donderdag 19 September 2024
Dagstuk | Saterdag 21 September 2024

Klaagliedere 3:22-23.  Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is nuut elke môre.

Toe die inwoners van Jerusalem in die sesde eeu voor Christus deur die Babiloniërs na die vreemde land Babel weggevoer is, het hulle daar langs die stad se riviere klaagliedere gesing. Die tragedie van die vernietiging van die tempel en hulle stad was die gevolg van verkeerde besluite. In die midde van God se waarskuwings deur die profete, waaraan daar nie aandag gegee is nie, het hulle onveranderd met hulle lewens voortgegaan. In Babel sit hulle nou met niks. Of dit is wat hulle dink? Waar sing hulle hulle klaagliedere? Waarheen het die Here hulle weggevoer? Volgens die Bybelse beskrywing sit hulle langs die riviere van die tuin van Eden! Die hangende tuine van Babel was een van die antieke wêreld se wonders. Dit was eers toe Jeremia se boodskap (Jeremia 29) hulle later bereik dat hulle oë vir hierdie nuwe realiteit begin oopgaan. Ons bevind ons gereeld in omstandighede van ballingskap waar ons die gevolge van ons eie en voorgeslagte se oortredings moet dra. Selfs in hierdie omstandighede het die liefde van die Here ons nie verlaat nie en ontdek ons die potensiaal van nuwe lewe. Ons kan nie die verlede verander wat ons soos die ballinge by plekke van verlies gebring het nie. Ons kan egter wel daaruit leer en ontdek dat die plek waar ons ons lot beklaag miskien selfs beter is as die plek waarna ons terug verlang omdat die Here se liefde op hierdie plek nuut is. Hoe praat die Here deur hierdie waarheid met jou oor die plek waar die lewe jou vandag by uitgebring het?

Gebed

Grote God, U het die son en maan gemaak om dag en nag en seisoene van mekaar te onderskei. Ons kan nie vrugte en blomme pluk buite die seisoen waarvoor U hulle bestem het nie. Maar, in U goedheid, Here, het U u  liefde  en genade nie óók aan seisoene verbind nie. Dit is altyd in hoogbloei – in elke liewe môre. U sê nooit ons moes gister gekom het nie. Ons hoef nooit om te draai en môre of volgende seisoen weer terug te kom vir U liefde nie. Dit is nuut elke môre. Enige tyd is vir U die regte seisoen. Dankie  dat ek weer vandag nuut kan begin. Amen.