Dagstuk | Vrydag 2 Januarie 2026

Dagstuk | Donderdag 1 Januarie 2026
Dagstuk | Saterdag 3 Januarie 2026

Teksvers: Filipense 1:9
Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, 10 sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, 11 en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.

Die teoloog Dirkie Smit skryf hieroor dat saam met perspektief in die lewe, prioriteite kom. Hoe ons na mense en dinge kyk, bepaal wat vir ons gewig dra of nie. Wat en wie ons sien en nie sien nie, het baie te make met ons prioriteite, met die waarde wat ons aan hulle toeken—of ons dit besef of nie.

Hy verduidelik verder en sê: prioriteite dui letterlik op volgorde, rangorde, voor-in-die-ry of ver-agter-en-onopmerklik-agter-in-die-tou. Dit is juis die punt. Wie sou omloop en van ’n ander kant af kyk, se volgorde word ook anders. Laaste word eerste. Prioriteit lê nie in waarna gekyk word nie, maar in wie kyk. In wie ons is en waar ons staan.

Ek dink dis ook so in die lewe. Veral so aan die begin van ’n jaar, waar ons die geleentheid kry om net effens anders te leer kyk. Wat laasjaar so gewigtig was, hoef nie meer alles oorheersend te wees nie.

Ek dink dis ook Paulus se punt as hy bid dat ons liefde sal toeneem, sodat ons kan onderskei wat regtig saak maak. Die vreemde is dat hy sê daarvoor moet ons liefde toeneem. Dit is asof dit “oë van liefde” is wat perspektief bring, prioriteite verander en ons anders laat kyk—na alles en almal. Mag ons hierdie uitnodiging ontvang en deel maak van ons lewe.