Dagstuk | Vrydag 20 Junie 2025

Dagstuk | Donderdag 19 Junie 2025
Dagstuk | Saterdag 21 Junie 2025
https://youtu.be/pfxMCRwgn8o

Teks Matt 14:30-31

Maar toe Petrus sien hoe sterk die wind is, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: Here, red my!” Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gese: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?

Dit bly vir baie gelowiges ‘n troos om te weet dat die Bybel ons daaraan herinner dat ons die las kan he van wat bekend staan as kleingeloof.

Die briefskrywer Matteus skryf baie oor hierdie tema. Oomblikke en situasies waar die sigbare en uiterlike omstandighede dreig om mense te oorweldig en hulle geloof weg te kalwe. Soos die nag toe die dissipels op ‘n stormagtige see uitgeroep het vir Jesus om hulle te help en Petrus vir ‘n oomblik tussen die golwe van ‘n onstuimige see verdwyn het. Dis dan wanneer jy die woorde hoor wat baie van ons ook al uitgeroep het: Here red my! In hierdie storie hoor jy dan Jesus se stem: Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?

Carel Antonissen, ‘n teoloog skryf oor hierdie gedeelte en maak dan die opmerking dat kleingeloof nie noodwendig ongeloof is nie. Dit is wel ‘n gesplete of uitgerafelde soort geloof- een waarin jou aandag en vertroue nie meer volkome op Christus is nie. Wanneer jy toelaat dat jou omstandighede, siekte, bekommernis oor finansies, jou werk of kinders, die sterkste woord spreek. Die enigste en laaste woord is. Dis dan wanneer die geloof wat jy nog oor het, gewoon te swak of klein is.

Ek dink dit herinner ons om elke dag vir God te vra vir meer geloof. Ek dink dit vra van ons om te bly vertrou dat Jesus se uitgestrekte en helpende hand nooit ver van ons is nie.

Here, dankie dat u ons twyfel ken en steeds u hand na ons bly uitstrek

Amen