God wat ons vind tussen êrens en nêrens
Net soos Paulus se lewe radikaal verander het na sy ontmoeting met die Here op die pad na Damaskus, het Jakob se lewe ingrypend verander toe die Here hom in Genesis 28 ontmoet het.
Genesis 28:13
“Toe kom staan die Here by Jakob en sê: ‘Ek is die Here, die God van jou voorvader Abraham en die God van Isak.’”
Die eerste deel van Jakob se lewe is gekenmerk deur sy drang om homself te laat geld en om in die lewe voor te kom. Sy naam beteken inderdaad “bedrieër”, en sy dade het hom uiteindelik ingehaal. In Genesis 28 is Jakob op die vlug — van mense, van omstandighede en, in ’n sekere sin, ook van God.
Een nag, terwyl hy alleen in die oop veld slaap, droom hy. Hy sien ’n leer wat van die aarde tot in die hemel strek, en God wat langs hom kom staan. En in plaas daarvan om Jakob te veroordeel, seën die Here hom. Hierdie ontmoeting verander Jakob se lewe ingrypend.
Daarna noem Jakob die plek Bet-El — “huis van God”.
Hierdie verhaal is vir ons kosbaar, omdat dit ons herinner dat mense met skuld en gebrokenheid nie van God se heilige teenwoordigheid afgesny word nie. Terwyl ons probeer vlug — van mense, van omstandighede en soms selfs van God — kom vind Hy ons, soos Jakob, tussen êrens en nêrens.
God se genade is nie net bedoel vir dié wat Hom doelbewus soek nie, maar ook vir dié wat wegvlug. Die ervaring van genade is nie gereserveer vir ’n uitgesoekte groep nie, maar vir almal wat God se pad kruis — selfs onvoorbereid, selfs gebroke, selfs bang.
Hoe is die Here se genade besig om in jóú reis tussen êrens en nêrens deur te breek?
Hoe laat Hy jou beleef dat die plek waar jy jou nou bevind, ook die huis van God kan wees?
Here, God van Abraham, Isak en Jakob,
U is die God wat ons ontmoet — nie wanneer alles reg is nie,
maar juis wanneer ons vlug, bang is en nie weet waarheen nie.
Ons probeer die waarheid ontwyk.
Ons hardloop weg van keuses, konflik, skuld en onsekerheid.
En tog, Here, kom vind U ons juis daar.
Dankie dat U nie wag vir volmaakte geloof nie,
maar dat U ons ontmoet in ons ontkenning,
in ons vrees,
in ons vlug van moeilike omstandighede.
Here, maak ons oë oop om te sien
dat die plek wat ons as gewoon of hard beleef,
heilige grond kan word wanneer U daar is.
Dankie dat U ons chaos in nuwe tuistes verander.
Ons vertrou U, Here —
die God wat ons ontmoet,
selfs wanneer ons nog nie gereed is nie.
Amen.