Dagstuk | Vrydag 23 Mei 2025

Dagstuk | Donderdag 22 Mei 2025

TEKS: ROMEINE 11:33-36

33O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!

Hoe ondeurgrondelik is sy oordele,

hoe onnaspeurlik sy weë!

34“Wie ken die bedoeling van die Here?

Wie gee Hom raad?

35Wie bewys Hom ‘n guns,

sodat Hy verplig is om iets terug te doen?”

36Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.

Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.

 

BOODSKAP

Ons staan vandag stil by die laaste vers van hierdie pragtige lofrede: Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid Amen.

Die bekende komponis Johann Sebastian Bach (gebore 1685 en veral bekend vir sy Matteus en Johannes passies) het die letters S.D.G. (soli Deo gloria) tot sy komposies toegevoeg. Dit gee ‘n aanduiding hoe Hy oor sy werk gedink het. Deur die eeue sou gelowiges deur dié frase, aan God die eer, uitdrukking gee aan hulle dankbare oortuiging dat hulle al hulle gawes en talente uit God se hand ontvang het en daarom God met toewyding deur hulle lewens en dade wil eer.

Telkens lees ons in die Bybel die oproep om aan God die eer te gee omdat die heerlikheid aan Hom behoort. Dink maar aan aan die woorde  van 1 Petrus 4:11: “So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid”!”

Die gedagte dat die eer en heerlikheid aan God behoort loop soos ‘n goue draad deur die hele Bybel. Dit is belangrik om te besef dat ons as mense nie die misterie en grootheid van God se heerlikheid kan deurskou of volledig begryp nie. Maar ons kan wel vashou aan die gedagte dat God iets van sy heerlikheid bekend maak.

Hoe doen God dit? God vertoon sy heerlikheid ondermeer deur die skepping, wat die 16de eeuse kerkhervormer Johannes Calvyn as “die teater van God se glorie” beskryf het. Ons sien ook iets van God se heerlikheid as ons na mense kyk. Mense – álle mense – is na die beeld van God geskep en besit daarom inherente waardigheid en skoonheid.

God openbaar bowenal sy heerlikheid in die persoon van Jesus Christus, in sy menswording, lyding, kruisiging, opstanding en lewende teenwoordigheid. By sy geboorte het die engele daarom gesing: “Ere aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het” (Lukas 2:13-14).

‘n Teks uit die 17de eeu, die Westminster Shorter Catechism, verwoord iets van hierdie gedagte wanneer dit as antwoord op die vraag wat die hoogste doel van die mens se lewe is, soos volg antwoord: “The chief end of human beings is to glorify God, and enjoy Him forever.”

GEBED

Vroeg in die more soek ek U, heerlike, heilige God,

lig, ewige glans, skeppende krag,en dank U vir U dag.

U maak lig in die duisternis,

maak dit ook in my lig

in die vroeë môre van U dag.

U Woord is die Lig.

Praat met my.

U Waarheid is die Lewe,

maak dit lewend in my,

dat ek die dood nie meer vrees nie.” Jorg Zink