Dagstuk | Vrydag 26 Desember 2025

Dagstuk | Donderdag 25 Desember 2025
Dagstuk | Saterdag 27 Desember 2025

https://youtu.be/oohwFx8X8CU

1 Korintiërs 13:5-7

5Liefde tree nie onbehoorlik op nie,
jaag nie eiebelang na nie,
is nie liggeraak nie.
Dit hou nie boek van die kwaad nie,
6 is nie bly oor onreg nie,
maar is saam bly oor die waarheid.
7Dit bedek alles,
glo alles,
hoop alles,
verduur alles.

Vandag se gedeelte is uitdagend. ’n Skeptiese persoon sal onmiddellik vra, maar wat van geregtigheid? As ons nie boekhou van die kwaad nie en alles bedek en almal glo en alles verduur, stel ons onsself bloot om uitgebuit te word deur mense sonder ’n morele kompas. Dan kan geregtigheid nie plaasvind nie. En om ’n onregverdige samelewing te handhaaf, is nie liefdevol nie.

Dit is sekerlik waar en Paulus sou waarskynlik saamstem hiermee. Maar getrouheid aan die wet en die soeke na geregtigheid, sonder liefde, is ook nie geregtigheid nie. Hierdie gedeelte vra nie van ons om te kies tussen geregtigheid en liefde nie, maar eerder om na alles en almal rondom ons te kyk deur die lens van liefde.

Liefde het ’n manier om te verander hoe jy na die wêreld kyk. As jy na iemand kyk of luister wat verlief raak op iemand anders, word dit duidelik. Dit is nie net die persoon op wie hulle verlief is, wat skielik vir hulle mooi is nie, maar hulle hele wêreld lyk skielik anders. Skielik let hulle op hoe mooi die wolke vandag is of hoe helder die son skyn en hulle hoor voëltjies sing wat hulle nog nooit tevore opgelet het nie.

Liefde het ’n manier om ons hele wêreld te verander. Dit veroorsaak dat ons anders kyk na alles rondom ons.

Let vandag op na hoe jy oor jouself praat of dink. Na daardie stem in jou kop. Met hoeveel liefde praat jy met jouself? Het jy geloof en hoop vir jouself? Of hou jy boek van jou eie kwaad en is jy afbrekend teenoor jouself?

As jy dink aan hoe God oor jou dink, is God teleurgesteld oor alles wat jy verkeerd doen, of dink God aan jou met liefde?

Mag ons al hoe meer besef dat God met liefde na ons kyk. En mag ons al hoe meer leer om deur die lens van liefde na onsself en ander te kyk.

Gebed

Here, wanneer ons na onsself en ander kyk, is ons dikwels so liefdeloos. Ons dink selfs soms dat U kwaad en teleurgesteld in ons is. Kom herinner ons vandag hoe U na ons met liefde kyk en help ons om groter liefde vir onsself en ander te hê.

 

Amen.