Dagstuk | Vrydag 26 Januarie 2024

Dagstuk | Saterdag 27 Januarie 2024
Dagstuk | Donderdag 25 Januarie 2024

Ek lees weer vir ons uit Johannes 4:10. Jesus het haar geantwoord: As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: Gee My ‘n bietjie water om te drink, sou jy hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.

Hoe reageer ons op oomblikke van insig? Soos ons in die week met die Samaritaanse vrou se verhaal besig was, besef ’n mens dat die insig wat God gee dikwels nie ‘n onmiddellike ‘aha’ oomblik is nie. Jesus het geleidelik, stukkie vir stukkie tot die Samaritaanse vrou se lewe deurgebreek. Aan die begin het sy niks verstaan van wat Hy vir haar gesê het nie, maar soos die verhaal vorder begin die lig na haar toe deurbreek. Die insig waartoe die Here ons begelei is nie maanskyn en rose nie. Dit behels dikwels ‘n proses waarin jy eers van sterk gevestigde denke, emosies en selfs ou geloofsoortuigings moet afskeid neem. Die mooi van die Samaritaanse vrou se verhaal is Jesus se geduld en die sagte wyse waarop hy met haar omgaan. Hy verwag nie, soos ons dikwels doen, dat mense onmiddellik moet verander nie. Ons gebrek aan insig of hardkoppigheid weerhou ons nie van God se genade nie. Verandering verg tyd, maar onthou dat God altyd in tyd by ons is. Ons is daarom as’t ware altyd in die proses van bekering. Hoe lyk hierdie pad in jou eie lewe? Hoe is die Here se genade besig om nuwe insigte in jou oop te breek? Hoe gaan ons vandag daarop reageer?

Gebed

Here, leer ons weer vandag dat u Seun nie net gesterf het om ons van lyding te verlos nie, maar van onsself. Gee my vandag die insig dat verandering en vernuwing nie soseer ‘n oomblik is nie, maar ‘n voortdurende proses om aan myself te sterf. Dankie dat U ons altyd na plekke lei om weer te kan opstaan en die vrede dat U in die proses nooit ver van ons is nie.

Amen.