Dagstuk | Vrydag 27 Desember 2024

Dagstuk | Donderdag 26 Desember 2024
Dagstuk | Saterdag 28 Desember 2024

Vandag is Vrydag 27 Desember en ons het die week kersdag van Jesus gevier. God Homself wat oor grense beweeg het, mens geword het en tussen ons kom woon het.

Om hierdie diep betekenis verder te verken terwyl ons oppad is na ‘n nuwe jaar, staan ons vandag stil by die blye boodskap van hierdie evangelie.

Teks: Lukas 2:10-11

“Toe sê die engel vir hulle: ‘Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is: vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!’”

Die blye boodskap van Jesus se geboorte bring vreugde en hoop. Hierdie vreugde is beskikbaar vir almal, en ons is geroep om dit te deel met die wêreld rondom ons. Van ‘n Verlosser wat leef en nogsteeds daagliks ons kom verlos. Dit is die goeie nuus! Die uitnodiging is dus dat ons as verlostes in oorwinning moet leef. Dit is hierdie boodskap van groot blydskap wat ons moet indra na die jaar van 2025. Die blye boodskap van Christus se geboorte herinner ons dat daar altyd rede is om te juig, maak nie saak wat ons vrese of bekommernisse  vir die nuwe jaar wat voorlê, is nie. Die blye boodskap is ons krag!

Inspirasie:

Laat die blye boodskap van Christus se geboorte jou inspireer om vreugde te vind in klein oomblikke en dit uit te straal na almal wat jy ontmoet.

Gebed: Hemelse Vader, ons dank U vir die blye boodskap van Jesus Christus. Vul ons harte met vreugde en help ons om hierdie blye boodskap aan ander oor te dra. Amen.