https://youtu.be/JzMnHu_XuLE
Psalm 97:1-2. Die Here regeer, die aarde moet juig, al die eilande moet bly wees. Die Here is omgewe van donker wolke; sy troon is gebou op reg en geregtigheid.
In die afgelope week het ons gepraat oor die verskillende wyses waarop God se koninkryk in ons hede gestalte kry en maniere waarop dit op ons ‘n indruk maak. Vandag se Psalm praat daaroor in terme van God se reg en geregtigheid. God se vrede is nie die tevredenheid om altyd net ons uitdagings voor God te lê en te bid en hoop dat Hy dit iewers in sy grootheid en almag gedoen sal kry nie. God se vrede daag ons elke dag uit om onsself aktief te beywer vir God se reg en geregtigheid. Hoe gebeur dit in ons lewens? Dit behels meer as dat ons in staat is om dit wat sleg en verkeerd is uit te wys en daarteen te baklei. Die Here lei ons tot insigte om reg en geregtigheid prakties in die werk- en lewensomstandighede waarin ons onsself bevind, uit te leef. Dink na oor wat vir jou in hierdie dag en week voorlê. Hoe roep die Here jou om dit na te streef en hoe verander dit vandag jou besluitneming?
Gebed
Here, ons voel dikwels so verlam deur ons omstandighede om maar net die pad van die minimum weerstand te volg en met dinge aan te gaan soos dit is. Bemagtig my met U krag Here om vandag te kan kies vir wat reg en regverdig is en nie toe te laat dat vrees en onsekerheid in my aksies bly voortleef nie. Bewaar my wanneer ek dink dat baklei al manier is om reg te laat geskied. Leer my dat ek soos U deur diensbaarheid veel meer kan uitrig. Amen.