Tema: Liefde oorwin vrees
Teks: 2 Timoteus 1:7. Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.
Wat is die emosie wat liefde by jou oproep? Ons koppel dit dikwels aan goedvoel-ervaringe wat te doen het daarmee dat mense ons raaksien, erken en waardeer. Of dit maak in ons die gevoel wakker om met waardering en erkenning teenoor ander op te tree. God se liefde stel ons egter tot veel meer in staat. Dit is ook ontwerp vir ontwrigtende, moeilike en druk tye waar die donkerte dreig om onsself, of ander in te sluk. Dit oorwin ons vrees en gee ons die moed om op bedreigende en moeilike omstandighede te reageer en nie net ons omstandighede gelate te aanvaar nie. Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie. So sê ons teks. Dit maak ons ook aan die ander kant nie reaktief en impulsief nie. Dit vul ons met selfbeheersing. Dink aan hoe hierdie realiteit vandag in jou eie lewe afspeel. God wat jou oortuig om nie langer stil te bly, of om in hierdie omstandighede passief te bly nie, maar om met selfbeheersing en liefde op jou omstandighede te reageer. Hoe help hierdie teks jou waar jy jouself in moeilike en uitdagende omstandighede tussen mense bevind.
Gebed
Hemelse Vader, U is volmaak in liefde en vol geduld – stadig tot toorn en groot in genade. Dankie dat U ons leer om in U voetspore te volg.
Here, gee aan my ‘n gees van selfbeheersing –om nie impulsief te reageer nie,
om my woorde met wysheid te kies, en om my dade te laat getuig van U liefde.
Help my om nie toe te gee aan woede, jaloesie, trots of selfsug nie,
maar om getrou te wees aan die vrug van die Gees:
liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid,
geloof, sagmoedigheid en selfbeheersing.
Maak my hart sag, my denke helder, en my gees vas in U.
Mag U liefde my beheer – sodat ek getuig van U lig, al loop ek deur donker dae.
In die Naam van Jesus bid ek dit.
Amen.